ToekomsVenster: Die dood van Johannes die Doper

gebed

Argieffoto.

Vroeër het Herodes self Johannes laat vang. Hy het hom in die tronk opgesluit op aandrang van Herodias, die vrou van sy broer Filippus. Herodes het met haar getrou, en Johannes het vir hom gesê: “U mag nie u broer se vrou vat nie.”

Herodias het daarna ‘n wrok teen hom gekoester en wou hom laat doodmaak, maar sy kon nie, want Herodes was bang vir Johannes omdat hy besef het dat hy ʼn opregte en godvresende man is. Hy het vir Johannes onder sy beskerming geneem en elke keer wanneer hy hom aangehoor het, het hy in ʼn ernstige tweestryd geraak. Tog het hy graag na hom geluister.

Op ʼn dag het Herodias ʼn goeie kans gekry. Toe Herodes op sy verjaarsdag vir sy hoofamptenare en die opperbevelhebbers en die hoëlui van Galilea ʼn feesmaal gegee het, het die dogter van Herodias daar ingekom en vir hulle gedans. Dit het groot byval by Herodes en sy gaste gevind. Die koning het toe vir die meisie gesê: “Vra my net wat jy wil hê, en ek sal dit vir jou gee.”

Daarby het hy dit herhaaldelik met ʼn eed vir haar bevestig: “Net wat jy my vra, sal ek vir jou gee, tot selfs die helfte van my koninkryk.”

Sy het toe uitgegaan en vir haar ma gesê: “Wat moet ek vra?”

Dié het gesê: “Die kop van Johannes die Doper.”

Sy het haastig reguit na die koning toe geloop en vir hom gevra: “Ek wil hê u moet vir my dadelik in ʼn skottel die kop gee van Johannes die Doper.”

Die koning was baie verslae, maar omdat hy dit voor die gaste met ʼn eed belowe het, wou hy haar dit nie weier nie. Hy het dadelik iemand van sy lyfwag opdrag gegee en hom gestuur om Johannes se kop te gaan haal. Hy het hom in die tronk gaan onthoof, sy kop in ʼn skottel gebring en dit vir die meisie gegee, en die meisie het dit vir haar ma gegee.

Toe Johannes se volgelinge daarvan hoor, het hulle gekom en sy lyk weggeneem en begrawe.

Die afgryslike verhaal dring ʼn mens tot stilswye. Enersyds die koelbloedige moord op ʼn Godsman van wie die koning self getuig dat hy eerbaar en opreg was. Daarmee saam die gebrek aan ruggraat by die gekose leierskap van die dag.

Nee is ook ʼn antwoord. Jou beeld by ander is van minder belang. Die koning kon nee gesê het.

Elia leef ook in ʼn tyd waar die koning aangevuur deur sy goddelose vrou, Isebel, godsmanne gevoelloos om die lewe bring.

Ons hoor van gruweldade wat in die naam van godsdienstige ekstremiste gepleeg word. Onskuldige mense, Christene wie se enigste oortreding is dat hulle mense van die Weg is, word brutaal en voor die voet vermoor, soms vir 30 stukke silwer soos met Judas Iskariot. Hier verwys ek na lospryse wat beding word vir die vrylating van politieke gevangenes.

Vervolging van Christene vind wêreldwyd plaas en neem verskeie gestaltes aan. In sommige lande word Christene aan die allerverskriklikste vergelding en vervolging blootgestel.

Openbaring vertel dat onder die altaar die stemme van hulle wat onregmatig om die lewe gebring is, roep na die geregtigheid van God. Daar kom ʼn dag van afrekening. Daar kom ʼn dag van regspraak.

Openbaring 6:9 – Toe die Lam die vyfde seël oopmaak, het ek onder die altaar die siele gesien van die mense wat doodgemaak is omdat hulle aan die woord van God en aan die getuienis van Jesus vasgehou het.

Openbaring 7:14 – En ek sê vir hom: My heer, u weet dit. En hy sê vir my: Dit is hulle wat uit die groot verdrukking kom, en hulle het hul klere gewas en hul klere wit gemaak in die bloed van die Lam.

Openbaring 12:11 – En hulle het hom oorwin deur die bloed van die Lam en deur die woord van hulle getuienis, en hulle het tot die dood toe hulle lewe nie liefgehad nie.

Openbaring 17:6 – En ek het die vrou gesien, dronk van die bloed van die heiliges en van die bloed van die getuies van Jesus, en ek het my uitermate verwonder toe ek haar sien.

Die Bybel sê vreeslik is dit om te val in die hande van ʼn lewende God.

Nie te lank gelede nie is Werner Groenewald en sy twee kinders in Kabul in Afghanistan deur die Taliban vermoor.

Gelukkig was sy vrou (wat as dokter in ʼn hospitaal gewerk het) ongedeerd. Werner was ʼn onderwyser in Kabul en betrokke by liefdadigheidswerk. Hulle het as gesin die Here getrou gedien.

Die Taliban het aanspreeklikheid vir die moord aanvaar, en op Twitter gesê “the compound was that of a secret Christian missionary group”.

Werner en sy gesin se lewe het ʼn groot invloed op mense rondom hulle gehad.

In die tweede eeu n.C., toe duisende gelowiges doodgemaak is vir hul geloof in Christus, onder meer rofweg in daardie selfde streke waar Werner gesterf het, het Tertullianus (ʼn teoloog in Noord-Afrika) gesê: “Die bloed van die martelare is die saad van die Kerk.”

Vinnige praatjies en beloftes maak kan jou duur te staan kom. Herodes, aangevuur deur sinlike genot en die wulpse dans van sy broer se dogter, belowe (sonder om die uitwerking van wat hy sê te oorweeg) die skottelgereg aan sy vermeende vrou. Hoe aaklig.

Praat jy ook te gou, ook wat beloftes aan God betref? “As U my help met hierdie situasie, verleentheid, uitdaging, as U voorsien, as U ingryp, ensovoorts, sal ek …”

Die Bybel sê ons moet stadig wees wanneer dit kom by beloftes maak aan God. Hy hou nie van oppervlakkige godsdienstigheid nie.

Vertrou God eerder vir en in alles en leef elke dag dankbaar vir sy genade.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.