ToekomsVenster: Die doop met die Heilige Gees


Foto: pixabay.com

Foto: pixabay.com

Handelinge 1:4

’n Keer toe hulle so saam was, het Hy aan hulle dié opdrag gegee: Moenie Jerusalem verlaat voordat julle van die Vader ontvang het wat Hy belowe het nie. Julle onthou mos dat Ek julle vroeër daarvan vertel het. Johannes het met water gedoop, maar julle sal binne ’n paar dae met die Heilige Gees gedoop word.

Vandag gaan ons dieper in op die begrippe doop en vervulling met die Heilige Gees.

WAT IS DIE DOOP MET DIE HEILIGE GEES?

Die doop met die Heilige Gees is nie vir almal ʼn bekende begrip nie. Daar word ook uiteenlopend gepraat oor die doop met die Heilige Gees:

  • Baie keer bid mense vir die doop met die Heilige Gees, maar as ʼn mens hom/haar ná die tyd vra: Is jy toe met die Heilige Gees gedoop? sal hy/sy stamelend sê: Ek hoop so!
  • Daar word soms getuig van die doop met die Heilige Gees en dan sien ons dat die persoon wat daarvan getuig se belydenis en lewenswandel nie ooreenstem nie. Dit stel teleur.
  • In sekere kringe word daar gesê dat die doop met die Heilige Gees net vir die eerste gelowiges bedoel was, aangesien dit verband gehou het met die Nuwe Testamentiese uitstorting van die Heilige Gees en dat ons dit nie meer kan ontvang nie.
  • Dan is daar mense wat sê: Spreek in tale is die bewys dat ʼn mens met die Heilige Gees gedoop is, onder meer omdat die apostels direk ná die uitstorting van die Heilige Gees in tale gepraat het.
  • En só kan ons aanhou en aanhou. Soveel stemme soveel opinies. Wat is jou opinie?

TERMINOLOGIE

In Johannes 20:22 blaas Jesus oor sy dissipels en sê: Ontvang die Heilige Gees. Maar kort daarna gee Hy opdrag dat hulle in Jerusalem moet wag totdat hulle met krag van bo toegerus is. Hoe moet ons dit verstaan?

In Romeine 8 verduidelik Paulus uitvoerig dat hulle wat in Christus glo ook die Gees ontvang. In Efesiërs 1:13–14 sê Paulus nogeens dat ʼn mens die Heilige Gees ontvang as waarborg dat God jou gered het, wanneer jy tot geloof kom. Toe Johannes 20 se gebeure afgespeel het, het Jesus as opgestane Here die Heilige Gees aan sy dissiples oorgedra. Wat wou Jesus egter beklemtoon toe Hy vir hulle gesê het om te wag totdat hulle deur die Heilige Gees met krag toegerus is?

Miskien kan ons dit opsom deur te sê:

  • Ons ontvang die Drie-enige God se permanente inwoning wanneer ons vir Jesus as Saligmaker aanneem en gered word. Vader, Seun en Heilige Gees word óns God!
  • Die doop of vervulling met die Heilige Gees word telkens in die Nuwe Testament in verband gebring met die buitengewone werk of krag van die Heilige Gees, wat in die gelowige werksaam raak*.

TOEWYDINGSMOMENT

Kan ons ooreenkom om nie oor die naam van ʼn roos te argumenteer terwyl ons sy lieflike geur kan geniet nie? Die vraag is eenvoudig: Is die Heilige Gees se buitengewone werk al ʼn werklikheid in jou lewe?

GEBED

Heilige Gees, dankie vir u inwonende teenwoordigheid in my lewe. Ek wil U in geen opsig beperk nie. Sal U my asseblief kragtig in God se koninkryk gebruik? Amen.

PRAKTYK

Bedink vandag se dagstukkie. Skryf nou jou persoonlike definisie van die Heilige Gees se inwonende teenwoordigheid in jou lewe neer én bedink ook sy buitengewone werk in jou lewe. Praat met iemand wat jy vertrou daaroor.

ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Uncle Buck ·

Daar is verskillende maniere met die ontvangs van die Heilige Gees volgens my. Met die aanneming van Jesus as Verlosser en Saligmaker word die Heilige Gees lewend binne in jou. Dan praat die Bybel van die werking van kragte deur die Heilige Gees soos metPaulus en die verlamde man by die stadspoort. Dit is ‘n eenmalige aanraking vir die oomblik om God se genesende krag te toon. Dit kan weer op ‘n ander geleendheid op ‘n ander manier manifisteer. Die ontvangs van kragte toe die apostels moes gaan wag het is vir my meer dat die Heilige Gees jou toerus om dinge te doen wat jy nie normaalweg sou gedoen het nie. Jy kan bv. ‘n preek lewer wat jy nooit sou kon doen nie aangesien dit nie regtig jou aard is nie, of jy kan bonatuurlike wysheid bekom soos Salomo bv. Dit is maar net my opinie en siening en ek stem saam kom ons geniet die geur vd. roos en argumenteer nie oor die roos self nie.

Tant Mossie ·

Uncle Buck,
Is ‘doping/ontvang’ van die Heilige Gees dieselfde as wedergeboorte?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.