ToekomsVenster: Die eerste vermeerdering van die brood

Foto: Zeshalyn Capindo/Unsplash.com

Toe dit al baie laat was, het Jesus se dissipels vir Hom kom sê: “Dit is ‘n afgeleë plek hierdie en dit is al baie laat. Stuur die mense terug sodat hulle op die plase in die omtrek en in die dorpies vir hulle iets te ete kan koop.” Maar Hy sê vir hulle: “Gee julle vir hulle iets om te eet.” – Lees Markus 6:35-42

Een van die aangrypendste verhale wat in die nuwe Testament opgeteken is. By ten minste twee geleenthede het dit so plaasgevind. Dit het laat geword en die mense het nog nie geëet nie. Soos stil wees en rus noodsaaklik is ten einde effektief te wees, is eet ewe noodsaaklik. Jesus is realisties oor wat die mense nodig het. Fisiese kos naas die geestelike voedsel wat Hy so vrylik uitdeel.

Hoe gemaak as daar nie kos is nie? Wat beteken die beskeie vyf broodjies en twee vissies tog as net die manne alleen 5000 tel en manne kan eet? Ek vermoed ʼn gevoel van hulpelose onmag moes die dissipels beetgepak het toe Jesus aan hulle hierdie onmoontlike opdrag gee. Gee julle vir hulle iets om te eet.

Jesus sluit aan by dit wat beskikbaar is. Hy kan en het uit niks geskep nie maar wil hier sy almag op ʼn ander wyse toon. Selfs toe Jesus die brood en vissies hemelhoog hou en seën moes die dissipels in ongeloof toegekyk het.

In Jesus se hande word die brood en vis vermenigvuldig. Die wonder wat hier plaasvind is onwerklik. Hoe kan vyf broodjies en twee vissies nog twaalf mandjies oorskot oplewer?

God is en bly die God van die onmoontlike. Hy is die Bron. Hy het alles gemaak. Hy plant en dors die koring deur die toegewyde arbeid van sy kinders, Hy vang deur hulle die vis uit die oseane wat Hy gevul het en steeds vul met genoeg om van te leef.

Leef jy met hierdie verwagting? Word jou tekort so oorweldigend dat al wat jy sien die krisis is of sien jy ook in jou uitdaging ʼn geleentheid dat God sy Naam kan groot maak?

Jy mag ook voel dat wat jy het onbenullig klein en gering is. Jesus vra dat jy dit sal bring.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.