ToekomsVenster: Die eerste vermeerdering van die brood

brood-en-visse

Foto: Tben.wordpress.com

Toe dit al baie laat was, het Jesus se dissipels vir Hom kom sê: “Dit is ʼn afgeleë plek hierdie en dit is al baie laat. Stuur die mense terug sodat hulle op die plase in die omtrek en in die dorpies vir hulle iets te ete kan koop.”

Maar Hy sê vir hulle: “Gee julle vir hulle iets om te eet.”

Hulle antwoord Hom: “Moet ons met twee honderd mense se dagloon brood gaan koop om vir hulle iets te ete te gee?”

Hy vra vir hulle: “Hoeveel brood het julle? Gaan kyk.”

Nadat hulle gaan kyk het, sê hulle: “Vyf, en twee visse.”

Hy het hulle opdrag gegee om al die mense klompies-klompies op die groen gras te laat sit om te eet. Die mense het in groepe van honderd en in groepe van vyftig gaan sit. Toe het Hy die vyf brode en die twee visse geneem, na die hemel opgekyk en die seën gevra. Daarna het Hy die brood gebreek en dit vir sy dissipels gegee om aan die mense voor te sit. Hy het ook die twee visse onder hulle almal verdeel. Al die mense het geëet en genoeg gekry. Hulle het nog twaalf mandjies vol bymekaargemaak van die stukke brood en die vis. Van dié wat van die brood geëet het, was net die mans vyf duisend. – Matt. 14:15-21; Luk. 9:12-17; Joh. 6:5-14

Een van die aangrypendste verhale wat in die Nuwe Testament opgeteken is. By ten minste twee geleenthede het dit so plaasgevind. Dit het laat geword en die mense het nog nie geëet nie. Soos stil wees en rus noodsaaklik is ten einde doeltreffend te wees, so is eet ewe noodsaaklik. Jesus is realisties oor wat die mense nodig het. Fisieke kos naas die geestelike voedsel wat Hy so vrylik uitdeel.

Hoe gemaak as daar nie kos is nie? Wat beteken die beskeie vyf broodjies en twee vissies tog as net die manne alleen 5 000 tel?

In Jesus se hande word die brood en vis vermenigvuldig. Die wonder wat hier plaasvind, is onwerklik. Hoe kan vyf broodjies en twee vissies nog twaalf mandjies oorskot oplewer?

God is en bly die God van die onmoontlike. Hy is die Bron. Hy het alles gemaak. Hy plant en dors die koring deur die toegewyde arbeid van sy kinders. Hy vang die vis uit die oseane wat Hy gevul het en steeds vul met genoeg om van te leef.

Leef jy met hierdie verwagting?

Word jou tekort so oorweldigend dat al wat jy sien die krisis is, of sien jy ook in jou uitdaging ʼn geleentheid dat jy God se Naam kan verheerlik?

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.