Ek het die Here aangeroep en Hy het my geantwoord, Hy het my gered uit alle doodsgevare. – Lees Psalm 34:5
Lees gerus die hele Psalm rustig deur.
Vir my is hierdie ‘n gunsteling psalm. Die getuienis van iemand wat in ‘n desperate situasie na God geroep het en nou kan vertel dat God geluister het.
Dis die karakter van God, omgee, liefdevol en beskermend. Verbondsgetrou en genadig in die oortreffende trap.
“Die Engel van die Here slaan sy laer op rondom die wat die Here dien en red hulle”
Hierdie teks is ‘n metafoor vir die omvattende en insluitende beskerming en sorg van God.
Selfs nie ‘n haar val van ons hoofde sonder dat God betrokke is nie. Hy is besorg wat van en met ons word en dra ons belange altyd op die hart.
“Leeus kry honger” maar die kinders van God word uitgenooi om aan die tafel van die Here aan te sit en Sy hemelse spyse te geniet. Psalm 23
Die dood is nie ons voorland nie. Daarvan is ons verlos vanweë die opstanding van Jesus ons Koning.
Die hele psalm adem hoop, genade, uitkoms, bevryding, ‘n toekoms.
Dit nooi ‘n mens uit om die raad van die digter te volg – “vertrou op God”.
Daar is soveel krag en hoop en liefde hierin. Dit is baie ontroerend, baie dankie.