ToekomsVenster: Die gawe om wonders te doen


wolke

Foto: Ramdlon/Pixabay.com

Twee belangrike gedagtes om te onthou
• ’n Mens beskik nooit oor ’n gawe nie – die Heilige Gees gee dit soos Hy dit nodig vind, 1 Korintiërs 12:11.
• Die doel met die gawes is altyd om die geloofsgemeenskap op te bou en nooit om óns goed te laat lyk nie, 1 Korintiërs 12:7.

Die gawe om wonders te doen
Die Heilige Gees se teenwoordigheid in mense was alreeds vir talle Ou Testamentiese leiers ’n werklikheid. Ons lees in Psalm 52:11 hoe Dawid by God gepleit het dat Hy nie Sy Gees aan hom moet onttrek as gevolg van sy sonde nie. In Numeri 11:17 lees ons dat die Gees van God op Moses was en dat van die krag van Sy Gees ook in die 70 man was wat hom moes bystaan om die Israeliete te lei. Beide Elia en Elisa het ook kragtig deur die Gees bedien.

Die Heilige Gees was nie slegs teenwoordig in die Ou Testamentiese geloofshelde se lewens nie. Hy het ook bonatuurlik deur hulle gewerk, byvoorbeeld:
• Moses het sy kierie opgelig en die Rooi See in twee gedeel.
• Elia het gebid en God het vuur uit die hemel gegee.
• Elia het die weduwee van Sarfat se seun uit die dood opgewek.
• Elisa het met Elia se mantel op die Jordaan geslaan en dit in twee
verdeel.

Die Nuwe Testament is eweneens vol van sulke wondertekens. Hier volg ’n paar:
• Jesus vervloek ’n vyeboom en hy verdor.
• Jesus gee tussen 12,000 en 15,000 mense kos met 5 brode en 2
vissies.
• Jesus wek vir Lasarus uit die dood op en staan self ook uit die
dood op!
• Petrus en Johannes genees ’n verlamde man op pad na die tempel
toe.
• Filippus word deur die Gees van een plek na ’n ander verplaas.
• Paulus kom niks oor van ’n giftige slangbyt nie.

Wonders vind plaas wanneer God dit beskik
Wonders is buitengewone ingrype van God en vind plaas wanneer die Heilige Gees die gawe tot beskikking van ’n individu stel, nie noodwendig wanneer ons daarna voel nie. Ons is in Sy diens, nie Hy in ons s’n nie! Daarom is ’n verhouding met die Heilige Gees so belangrik. Ons is instrumente waardeur Hy bewerkstellig wat God in ’n spesifieke situasie op ’n bepaalde tyd op aarde tot stand wil bring. Ons hoef slegs oop te wees vir Sy leiding. Hy sal ons wys hoe en wat God wil doen.

David Yonggi Cho het jare gelede ’n verhaal vertel wat hierdie waarheid pragtig illustreer. Hulle gemeente het ’n byeenkoms in Korea georganiseer. Van die mense moes ’n rivier oorsteek om by die geleentheid te kon wees. ’n Storm het losgebreek en die brug oor die rivier is weggespoel. ’n Klompie vroue, wat baie graag by die byeenkoms wou wees, het eenvoudig in die siedende stroom ingestap en verklaar: Jesus het Petrus op die water laat loop. Hy sal dit vir ons ook doen. Hulle het verdrink. Hy het vertel hoe dit hulle geloofsgemeenskap geskok het en hoe hulle by selfondersoek bogenoemde Bybelse riglyn vir die funksionering van die gawes herontdek het.

Toewydingsoomblik
Bedink die volgende riglyn: Ek is in diens van die Heilige Gees; Hy is nie in my diens nie. Kies nogeens vir ’n dieper gehoorsaamheid aan die Heilige Gees se leiding.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoekwww.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Lucille ·

Maroela, ek het jou vandag eers ontdek – wat ‘n skat! Ek is innig dankbaar vir dit wat ek nou saam met julle kan beleef en geniet. Baie dankie. Jul nuus is 100% beter as enigiets anders op die internet. Dankie vir die kuiers saam met God en Jesus – dit is ongelooflik.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.