ToekomsVenster: Die gawe van alle gawes


hande-in-sirkel

Argieffoto.

Lê julle toe op die beste genadegawes. Nou wys ek julle wat nog die allerbeste is: Al praat ek die tale van mense en engele, maar ek het geen liefde nie, het ek ‘n stuk klinkende metaal, ‘n galmende simbaal geword. Al het ek die gawe van profesie en ken ek al die geheimenisse en besit ek al die kennis, en al het ek al die geloof om berge te versit, maar ek het geen liefde nie, dan is ek niks. Al deel ek al wat ek het aan ander uit, en al gee ek my liggaam prys om my daarop te kan beroem, maar ek het geen liefde nie, baat dit my niks. – 1 Kor 12:31-13:3

1 Kor 12-14, Rom 12, Ef 4 en 1 Pet 4 het lyste van wonderlike gawes wat in destydse gemeentes voorgekom het. Dit was belangrik dat die gemeente hierdie gawes beoefen het sodat die liggaam van Christus behoorlik kon funksioneer. Elke gawe, bediening of werking wat God geskenk het, is gebou op sy vrye guns, die genade wat Hy in Christus aan ons gegee het (Rom 12:1), die feit dat Jesus Christus nou as Heer in die hemel regeer (Ef 4:8-11), die werking van die Heilige Gees (1 Kor 12;7-11), die wederkoms van Christus (1 Pet 4:7) en die erkenning dat Jesus die Here is (1 Kor 12:3).

Dit is egter opvallend dat Paulus elke keer wanneer hy oor die gawes aan die gemeente praat een aspek uitlig waaroor ons nie kan argumenteer nie. As dit ontbreek, is al die wonderlike gawes onsin. Dit is die liefde.

In die hart van 1 Kor 12-14 praat Paulus uitvoerig oor die liefde wat alle gawes oortref. Dit is die allerbeste! Almal moet dit beoefen. Dis die kenmerk van ’n Christen.

In Rom 12:9, net nadat hy ’n lys van gawes genoem het, benadruk hy die noodsaaklikheid van opregte liefde – liefde sonder maskers. Hy skryf uitvoerig oor hierdie liefde binne en buite die geloofsgemeenskap (Rom 12:9-21).

In Ef 4 word die beskrywing van die gawes omraam met verwysings na liefde. Ef 4:1-3 verbind liefde en eenheid aan die werking van die Gees in ons lewe. Net nadat hy beskryf het hoe Christus wat aan die regterhand van God sit die gemeente deur die gawes opbou om meer volwasse te word, skryf hy: ‘Nee, ons sal in liefde by die waarheid bly en so in alle opsigte groei na Christus toe… So bou die liggaam homself op in liefde’ (Ef 4:15,16). Die res van die hoofstuk en Ef 5:1 tot 6:9 verduidelik dan hoe mense wat deur die Gees een gemaak is en deur Hom nuut gemaak is, in liefde moet lewe. In een van die min ‘mekaar’ gedeeltes van die Petrusbrief, sê Petrus dat die liefde alles oortref (1 Pet 4:8) voordat hy oor die gawes begin praat (1 Pet 4:10-11).

Elke liggaamsdeel mag dalk ’n funksie hê. Daar is voete, hande, harte, oë en ore. As die liggaam nie bloed het nie, is dit dood. Dis ’n lyk. Die gedeeltes in die Nuwe Testament wat oor die gawes handel, maak duidelik dat liefde soos die bloed van die liggaam is. Daarsonder mag ons baie gawes hê, maar die liggaam is van suurstof ontneem. Die organe sal nie werk nie. Ons mag soos ’n liggaam lyk, maar al wat nog moet gebeur is ontbinding.

Is dit wat die Here vir sy gemeente in gedagte het? Ek dink nie so nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.