ToekomsVenster: Die gawe van profesie


God-se-lig

Argieffoto.

Die aard van profetiese woorde
Wanneer jy ’n profetiese woord ontvang of bring, is dit belangrik om altyd die volgende riglyne in gedagte te hou:

Die Heilige Gees sal nooit buite die waardes en norme van die Skrif opereer nie. Daarom kan jy daarvan verseker wees dat dit byvoorbeeld nie die Here is wat praat wanneer iemand aan jou profeteer dat jy jou man / vrou moet skei nie. Die Heilige Gees skinder ook nie en sal nooit ’n storie oor iemand onder die dekmantel van ’n profetiese woord uitspreek nie.

’n Profetiese woord bevat bonatuurlike kennis, wat die Heilige Gees iemand aangaande ’n persoon / situasie gee. ’n Profetiese woord sal feitlik altyd die persoon wat dit bring se eie intellektuele vermoë en denke oorskry. Hoe kan dit dan ook anders? God is deur die profeet aan die woord. Wanneer die Heilige Gees aan jou die gawe van profesie gee, sal jy feitlik altyd uitsprake maak waarvan jy voorheen nie kennis gedra het nie.

’n Profetiese woord kan as ’n voertuig dien waarmee die Here jou wil vervoer van waar jy nou is na waar Hy jou sien. Dalk ken jy die beginsels van die Skrif en vertrou die Here met jou hele wese, maar jy voel onmagtig om in die rigting te beweeg of die keuses te maak wat God vir jou in gedagte het. Daar kan baie redes vir sulke gedrag wees, maar vooropgestelde idees, voorveronderstellings en vrese is merendeels die sondebok. In sulke gevalle versterk profesieë wat jy alreeds in jou binneste ervaar, maar baie keer nie kan verwoord nie. Profetiese woorde help ons dan om in beweging te kom met God se plan vir ons lewens.

Ongelukkig bied mense soms hul eie woorde aan as profetiese woorde. Indien jy nie rustigheid of vrede oor ’n profetiese woord het nie, moet dit nie vir jouself toe-eien nie. Wanneer God egter met jou praat, sal die woord met jou gees resoneer. Al is dit ’n harde woord, sal jy wéét dat dit God is wat aan die woord is.

Toewydingsoomblik
Dink na oor ’n Ou Testamentiese profeet deur wie se woorde die Here jou gereeld bemoedig. Wat gryp jou die heel meeste aan in sy profesieë? Fokus hy op bemoediging of berispe hy mense? Het jy al agtergekom dat God altyd die profesieë wou gebruik om mense na Hom toe te laat terugdraai?

Gebed
Here, ek is tot U beskikking. Heilige Gees as U my stem wil gebruik om Godgegewe profetiese woorde, wysheid en insig met iemand te deel, is U baie welkom. Amen.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoekwww.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.