ToekomsVenster: Die gebruik van gelykenisse

tyd-uurglas-02

Foto: Nathan Dumlao/Unsplash.com

Deur baie sulke gelykenisse het Jesus met die mense oor sy boodskap gepraat, vir sover hulle dit kon verstaan. Sonder ‘n gelykenis het Hy nie met hulle gepraat nie, maar wanneer Hy met sy dissipels alleen was, het Hy vir hulle alles uitgelê. – Lees Markus 4:33-34

Die Gees van God lei ons in  die verstaan van geestelike waarhede. Iewers sê die Skrif dat net geestelike mense geestelike inhoud kan verstaan. Dit verg ʼn ander ingesteldheid. Mens moet in afhanklikheid na die Here kom, dors en honger.

Die profeet nooi mense uit om die goeie te kom geniet, sonder geld. Dit is egter waar dat ʼn mens die versadiging en bevrediging wat die Woord gee nie sal beleef tensy jy in afhanklikheid na die Here kom nie. Soveel gedeeltes in die Bybel onderstreep hierdie gesindheid.

Ps. 123. Soos die oë van die dienskneg is

Soos die oë van ‘n slaaf gerig is op die hand van sy eienaar, soos die oë van ‘n slavin gerig is op die hand van haar eienares, so is ons oë gerig op die Here ons God, totdat Hy Hom oor ons ontferm

Dink aan Jakob “Ek sal U nie los voordat U my geseën het nie”.

Ps. 23:5-6 getuig van God se oorvloed. “U laat my by ‘n feesmaal aansit, terwyl my teëstanders moet toekyk. U ontvang my soos ‘n eregas, ek word oorlaai met hartlikheid. U goedheid en liefde sal my lewe lank by my bly en ek sal tuis wees in die huis van die Here tot in lengte van dae

Jer. 17:7-8 vertel van mense wat soos bome welig groei: Dit gaan goed met die mens wat sy vertroue in die Here stel, die mens vir wie die Here ‘n veilige vesting is;  so iemand is soos ‘n boom wat by water geplant is en sy wortels na die stroom toe uitstoot, nie die hitte voel as dit kom nie en altyd groen blare het; ‘n droë jaar raak hom nie en hy hou nie op om vrugte te dra nie. Die Gees wek in ons ʼn honger en dors na die geregtigheid van God.

Jer. 33: 1-3 hou die belofte van God se openbaring in Die woord van die Here het weer tot Jeremia gekom. Hy was toe nog ingeperk in die binneplaas van die paleiswag. So sê die Here, Hy wat die aarde gemaak en so gevorm het dat dit nie wankel nie, wie se Naam Here is: Roep My aan, Ek sal jou antwoord en jou vertel van groot en onverstaanbare dinge waarvan jy nie weet nie.

Baie dinge word in stiltetyd saam met God duidelik. Dit neem dissipline om te midde van die gejaag van elke dag tyd opsy te sit om alleen met Hom te wees. Wie daardie dissipline aan die dag lê word nie teleurgestel nie.

Ps. 34 – Niemand wat sy verwagting in U stel word teleurgestel nie.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae