ToekomsVenster: Die gelykenis van die mosterdsaadjie

saad-saadjie-hande

Foto: Joshua Lanzarini/Unsplash.com

Hy het ook gesê: “Hoe sal ons die koninkryk van God voorstel, of met watter gelykenis sal ons dit uitbeeld? Dit is soos ‘n mosterdsaadjie. Wanneer dit in die land geplant word, is dit die kleinste van al die soorte saad daar in die land. Maar as dit eenmaal geplant is, kom dit op en word dit groter as al die tuinplante. Dit kry sulke groot takke dat die voëls in sy skaduwee kom nes maak.” – Lees Markus 4:30-32

Iewers lui die spreekwoord, moenie die dag van klein dinge geringskat nie. Die gedeelte sluit weereens aan by die sentiment wat in die voorafgaande gedeelte uitgespreek word. Die begin mag nederig, onaansienlik en twyfelagtig voorkom maar die resultaat is oorweldigend en beïndruk.

Die mosterdsaadjie word gesê is die kleinste van alle saadjies. Jy moet fyn kyk om dit raak te sien. Jy kan dit veral miskyk as dit eers op die grond waarin dit geplant word geland het. Met die nodige sorg en geduld egter groei dit in ʼn boom wat die voëls van die hemel huisves.

Moenie die dag van klein dinge geringskat nie. Jesus het met twaalf dissipels begin. Vandag is die kerk ʼn wêreldwye realiteit met miljoene lede.

Ek is altyd beïndruk met mense wat in nederigheid begin het en geleidelik in iets groots ontwikkel. Waar visie en volharding is, kan betekenisvolle dinge tot stand kom. Dit begin egter met die klein en nederige saadjie. Veral ons jongmense land soms in die versoeking om alles gou te wil hê. Hulle wil nie graag hoor van die opoffering wat die vrug vooraf gegaan het nie.

Die wêreld rondom ons is deurmekaar. Daar is te veel hartseer en gebrokenheid. Somtyds raak ʼn mens desperaat omdat dinge oënskynlik nie verander nie. God se manier van dinge doen is anders as ons s’n. Romeine stel dit duidelik dat Hy in sy soewereiniteit nie op mense se raad en leiding aangewese is nie. My prof. het altoos gesê, van die Proton na die Eskaton, die begin na die einde. Hy is die alles omsluitende en insluitende Alfa en Omega.

Wees getrou in die kleine, God sal jou nie teleurstel nie.

Hosea 4:6 – My volk gaan onder omdat hulle nie aan My toegewy is nie.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Martie van Eck ·

Kan iemand my asb help, wil al so graag die praat gedeelte met n blinde persoon deel en op sy whatsap stuur as ek mag, maar het geen idee hoe om te maak ni, baie dankie

Martie ·

Kan iemand my asb help, wil al so graag die praat gedeelte met n blinde persoon deel en op sy whatsap stuur as ek mag, maar het geen idee hoe om te maak ni, baie dankie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.