ToekomsVenster: Die gelykenis van die saad wat vanself groei

tuinmaak

Foto: Benjamin Combs/Unsplash.com

Verder het Hy gesê: “Met die koninkryk van God gaan dit só: Iemand saai die saad op die land en gaan slaap en staan op, dag na dag, en die saad ontkiem en groei — hoé weet hy self nie. Vanself bring die aarde die graan voort, eers ‘n halm, dan ‘n aar, dan die vol koringaar. En wanneer die graan ryp is, steek hy dadelik die sekel in, omdat die oestyd daar is.” – Lees Markus 4:26-29

Die Prediker wys ons daarop dat daar ʼn seisoen is vir alles. So ook vir saai en oes. Die tyd tussen die twee handelinge kan somtyds ongemaklik lank wees. Aan die anderkant kan ʼn mens jou verwonder aan die hele proses. Die onbenullige en onaansienlike saadjie, ontkiem daar waar ʼn mens nie kan sien nie. Jy wonder stellig of enige iets aan die gebeur is. As julle soos ek is vroetel ek sommer baie gou aan die grond om te sien wat daaronder aan die gebeur is.

Weldra maak ʼn tengerige stingel die opwagting. Jy staan verbaas dat die brose spruit die aanslag van wind en weer kan weerstaan. Weldra vorm die eerste blaartjies en takkies, afhangende van wat jy geplant het. Na die bestemde tyd is die vrug daar.

Ongeduld is nie ʼn goeie aanbeveling vir ʼn tuinier nie. Jy benodig geduld in die proses. Jy moet die proses vertrou. Ons wil God dikwels aanhelp. Ons het in die geloof geplant en soek die vrug sommer more. Somtyds karring ons onder die grond om te sien of daar iets aan die gebeur is. In die proses doen ons skade en kom die plantjie nie tot sy reg nie.

Kinders van die Here bid en vertrou God dan. Bid daaroor en los dit by die Here sê mense mos.

Is jy ook ongeduldig? God se tyd is die regte tyd. Ons noem die wagtydperk geloof. Die Bybel sê in stil wees en vertroue hê lê julle krag, nie waar nie?

Die Koninkryk is God se antwoord op die seer en swaar van die wêreld. Die Koninkryk is die proses waarin en deur God se oorspronklike bedoeling met die skepping en Adam en Eva aan die stuur herstel word. Wat hulle as eerste Adam verbrou het word deur die tweede Adam ʼn volle en ontknopende werklikheid.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Frank ·

Jannie, jy gebruik dikwels ‘n woord of sinsnede wat my aandag trek, wat dikwels die gedagte ‘n nuwe dimensie gee. Hierdie keer was dit vir my “Na die bestemde tyd…”.
Hoe wonderlik is dit nie om te weet dat die Here in totale beheer is van Sy skepping nie, selfs die kleinste aspek in ons lewens en die alledaags.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.