ToekomsVenster: Die gelykenis van die saad wat vanself groei

lynsaad

Lynsaad. Foto: Superfoodsbazaar.com

Verder het Hy gesê: “Met die koninkryk van God gaan dit só: Iemand saai die saad op die land en gaan slaap en staan op, dag na dag, en die saad ontkiem en groei — hoé weet hy self nie. Vanself bring die aarde die graan voort, eers ‘n halm, dan ‘n aar, dan die vol koringaar. En wanneer die graan ryp is, steek hy dadelik die sekel in, omdat die oestyd daar is.” – Markus 4:26-29

Die Prediker wys ons daarop dat daar ʼn seisoen is vir alles. So ook vir saai en oes. Die tyd tussen die twee handelinge kan somtyds ongemaklik lank wees. Aan die anderkant kan ʼn mens jou verwonder aan die hele proses. Die onbenullige en onaansienlike saadjie ontkiem daar waar ʼn mens nie kan sien nie. Jy wonder stellig of enigiets aan die gebeur is. As julle soos ek is vroetel ek sommer baie gou in die grond om te sien wat daaronder aan die gebeur is.

Weldra maak ʼn tengerige stingel sy opwagting. Jy staan verbaas dat die brose spruit die aanslag van wind en weer kan weerstaan. Dan vorm die eerste blaartjies, takkies ensovoorts. Afhangende van wat jy geplant het. Na die bestemde tyd is die vrug daar.

Ongeduld is nie ʼn goeie aanbeveling vir ʼn tuinier nie. Jy benodig geduld vir die proses. Jy moet die proses vertrou. Ons wil God dikwels aanhelp. Ons het in die geloof geplant en soek die vrug sommer more. Somtyds karring ons onder die grond om te sien of daar iets aan die gebeur is. In die proses doen ons skade en kom die plantjie nie tot sy reg nie.

Kinders van die Here bid en vertrou God dan.

Bid daaroor en laat dit by die Here, sê mense mos.

Is jy ook ongeduldig?

God se tyd is die regte tyd.

Ons noem die wagtydperk geloof.

Die Bybel sê in stil wees en vertroue hê lê julle krag, nie waar nie?

Jesus praat van die koninkryk.

Van toe af het Jesus begin preek en gesê: “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel het naby gekom.” – Matteus 4:17

Hy stel die besondere eienskappe en eiesoortigheid van die koninkryk aan die orde.

Hy het hulle nog ‘n gelykenis vertel: “Die koninkryk van die hemel is soos suurdeeg wat ‘n vrou gevat en in ‘n groot skottel meel ingewerk het totdat dit heeltemal deursuur was.” – Matteus 13:33

“Met die koninkryk van die hemel gaan dit soos met ʼn skat wat in ʼn saailand onder die grond lê. Wanneer iemand dit kry, maak hy dit weer toe; en omdat hy baie in sy skik is, gaan verkoop hy alles wat hy het, en hy koop daardie land.” – Matteus 13:44

“Met die koninkryk van die hemel gaan dit soos met ʼn handelaar wat op soek is na goeie pêrels.” – Matteus 13:45

“Verder gaan dit met die koninkryk van die hemel soos met ʼn treknet wat in die see gegooi is en allerhande soorte vis vang.” – Matteus 13:47

Die koninkryk is God se antwoord op die seer en swaar van die wêreld. Die koninkryk is die proses waarin en waardeur God se oorspronklike bedoeling met die skepping en Adam en Eva aan die stuur herstel word.

Wat hulle as eerste Adam verbrou het word deur die tweede Adam ʼn volle en ontknopende werklikheid.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.