ToekomsVenster: Die gelykenis van die saaier

oring-koringare-landerye-son

Foto: Freestocks.org/Pexels.com

“Luister hier! ‘n Saaier het eendag gaan saai. Met die saai het ‘n deel van die saad op die pad geval, en die voëls het gekom en dit opgepik. ‘n Ander deel daarvan het op ‘n klipbank geval, waar daar nie baie grond was nie. Dit het gou opgekom, omdat die grond nie diep was nie.  Maar toe die son warm word, is dit verskroei, en omdat dit nie wortel geskiet het nie, het dit verdroog. ‘n Ander deel het tussen die onkruid geval. Die onkruid het opgekom en dit laat verstik, en dit het nie saad geskiet nie. Die ander saad het in goeie grond geval, en dit het opgekom, gegroei en ‘n oes gelewer. Party het dertigvoudig gedra, ander sestig- en nog ander honderdvoudig.” – Markus 4:3-8

Hierdie bekende gelykenis spreek boekdele en roep elkeen van ons ons voorraad opname te doen. Waar val die saad in ons lewens? In God se goedheid en genade saai Hy rojaal en in liefde. Almal het ʼn gelyke kans om op die Boodskap van genade te reageer. Dis egter bekend dat die saad (later word dit as die Woord voorgehou) op verskillende plekke val of eerder dat mense op verskillende maniere daarop reageer.

Dié woord en gelykenis is net so relevant vir ons dag as toe Jesus die voorbeeld genoem het. Die bose staan gereed om die saad se impak in ons lewens te neutraliseer. Of dit die pad, die klipbank of onkruid is, daar is ʼn verbete stryd aan die gang om die Woord sy krag in ons lewens te ontneem. Ons moet hierop bedag wees en die duiwel nie die geleentheid gun om sy vernietigende werk in ons lewens te doen nie.

Dit is ontstellend om te sien hoe eens oënskynlik toegewyde kinders van die Here net wegraak uit die geloofsgemeenskap. Daarmee sê ons nie dat die kerk en plaaslike gemeente die enigste legitieme geloofsuitdrukking is nie.

Mense kom deesdae in ander geloofsgroeperinge bymekaar ook omdat daar wantroue is in “georganiseerde” geloof met name die “kerk” soos ons dit ken. Leiersfigure maak hulself skuldig aan ongeloofwaardige optrede en vir baie gelowiges is die teleurstelling in die kerk net te groot. Aan die anderkant is daar altyd n “stok” naby as ’n mens een soek om houe mee uit te deel.

Uiteraard is die belangrike dat mense die Here voluit dien. Daarmee saam is dit so dat daar ʼn toenemende aantal mense is wat deur hul lewe en optrede getuig dat geloof nie meer relevant is nie. Vir my as Christen wonder ek waar ʼn mens die moed kry om met God te breek. Die Bybel sê dit duidelik.

Hand 17:17-28 – God het hulle gemaak om Hom te soek, al sou hulle ook moes rondtas om Hom te vind. Hy is nie ver van enigeen van ons af nie, want deur Hom lewe ons, beweeg ons en bestaan ons. Of soos party van julle digters ook gesê het: ‘Ons stam ook van Hom af.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Kobus ·

Ons is getroud met Jesus en nie met die kerk nie.
Die kerk moet steeds hervorm terug na God se Woord toe (net soos ons) maar nee, eerder al hoe meer booshede wat ingesleep word.
Die vyeboom is besig om te bot (Israel se geloofsoë gaan oop) en hul sien die verskil tussen wat Jesus sê en wat meeste van die hedendaagse kerke verkondig.
Bestudeer Jesus se woorde in die 4 Evangelies en jy sal ook leer dat Hy net Spreek dit wat Sy Vader Spreek, dat Hy steeds Leer dit wat God in die ou testament reeds vir ons gegee het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.