ToekomsVenster: Die genesing van ’n melaatse man

Foto: Karlis Dambrans/Unsplash.com

Daar kom toe ‘n melaatse man na Hom toe wat smekend op sy knieë voor Hom neerval en vir Hom sê: “As U wil, kan U my gesond maak.” Jesus het hom jammer gekry, sy hand uitgesteek en hom aangeraak. Hy sê toe vir hom: “Ek wil. Word gesond!” – Markus 1:40-41

Ai, kan jy jouself hierdie toneel voorstel. Die melaatse waag dit in die openbaar. Oral skarrel mense om van hom af weg te kom. Melaatsheid is tog hoogs aansteeklik. Daarby is die man seremonieel onrein. Hy is ongewens, ʼn gemarginaliseerde, uitgestoot uit die samelewing.

Tog besluit hy om dit te waag. Hy neem ʼn risiko. “So kan ek nie aangaan nie. Ek gaan Jesus vertrou vir my genesing.”

Jesus skarrel nie. Hy wys die man nie tereg nie. Hy sê nie: “Dis onverantwoordelik om in die openbaar te verskyn. Besef jy dat jy ander mense se lewens en gesondheid in gevaar stel”.

Nee, nie Jesus nie. Hy kry die man innig jammer. “Ek wil” sê Hy. “Word gesond”.

Ons dien ʼn “Ek wil” God. Hy het deernis met mense en hul omstandighede. Hy verstaan hul verleentheid en vernedering. Hy het dit immers eerstehands ervaar.

Hy doen die onverstaanbare. Hy doen wat ʼn mens wat sy eie gesondheid ernstig neem nie doen nie. Hy steek sy hand uit en raak die melaatse aan. Merkwaardig, die Jesus van Nasaret.

En jy? As mense dit naby ons waag, onaansienlik, dalk onwelriekend, onaanvaarbaar en besproke deur die samelewing? Sal ons ons hande uitsteek en aanraak?

Die man mag nie vertel nie, die sogenaamde Messiasgeheim. Jesus vra hom om vir bepaalde redes nie nou reeds Jesus se aardse bediening in gevaar te stel nie. Doen net wat die wet vereis. Dis genoeg. Die nuus sal weldra versprei.

Nou hoe bly ʼn mens stil oor so ʼn weldaad? Jesus verwag darem die onmoontlike nie waar nie. Hoe kan ʼn mens stilbly? Don Francisco sing “I`ve got to tell somebody”.

Is jy ook opgewonde oor wat Jesus vir jou gedoen het? Vir wie het jy al vertel?

Die man se optrede maak dit vir Jesus moeilik. Hy kan nie in die dorp ingaan nie. Soos by ander geleenthede sal mense Hom sommer dadelik tot Koning kroon. Dis nog nie tyd nie. Sy tyd sal aanbreek. Later sal Hy die prys betaal. Die hosannas van mense sal later in “kruisig Hom” verander. Ek dink nie Jesus was kwaad nie. Ek dink Hy het die ongemak met genoeë aanvaar.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.