ToekomsVenster: Die genesing van Petrus se skoonmoeder

Foto: @myuniverse_chloe/Unsplash.com

Toe die mense uit die sinagoge kom, het hulle saam met Jakobus en Johannes reguit na die huis van Simon en Andreas toe gegaan. Die skoonmoeder van Simon het daar met ‘n hoë koors siek gelê, en hulle het Hom dadelik van haar vertel. Hy het na haar toe gegaan, haar hand gevat en haar regop gehelp. Toe het die koors haar verlaat, en sy het hulle bedien. – Markus 1: 29-31

Daar word baie staaltjies vertel oor skoonma’s, nie waar nie? Dit blyk darem dat Petrus ʼn redelike goeie verhouding met sy skoonmoeder gehad het.

Mense en hul nood, of dit fisies, geestelik of emosioneel is, behoort die harte van Christene aan te gryp. Dit is nie lekker om te sien dat mense swaar kry nie. Petrus stel vir ons ʼn navolgenswaardige voorbeeld. Hy vertel Jesus daarvan. Hy doen meer. Hy bring Jesus na sy skoonmoeder toe.

Hier is ʼn baie belangrike les om te leer oor hoe ʼn mens met die nood van ander mense wat jou pad kruis handel. Uiteraard kan niemand vir almal verantwoordelikheid aanvaar nie. Elkeen het ʼn verantwoordelikheid om met die mense wat die Here, ek wil sê, ooglopend op jou pad bring, dalk by herhaling, op gepaste wyse te handel.

Petrus doen twee betekenisvolle goed, soos reeds gesê. Hy vertel Jesus daarvan. In eie idioom kan ons dit gebed noem. Hy noem die naam en omstandighede van die betrokke persoon voor God se genadetroon. Dis die toppunt van naasteliefde naamlik om iemand anders na die Here te bring in gebed.

Daar is egter ʼn ander belangrike moment. Hy bring Jesus na sy skoonmoeder toe. In oordragtelike sin beteken dit om dit waarvoor Jesus staan, barmhartigheid, omgee, liefde, sorg en troos na mense in nood te bring.

Heel konkreet beteken dit dat dit wat jy voor die Here in gebed genoem het jou opdrag word asof God self sê: “Ek bemagtig jou, doen nou die aangewese ding”.

In jou en my situasie mag dit beteken dat ons vir die betrokke persoon gaan bid, bedien, ondersteun en medeverantwoordelikheid neem. Om Jesus na mense te bring is konkreet, hang nie in die lug nie maar kry inhoud deur jou en my optrede en liefde.

Bring jy mense na Jesus toe en bring jy Jesus na mense toe?

As ons weer na die teks luister probeer jouself die verligting van Petrus, sy gesin maar veral sy skoonmoeder in te dink.

Sien jy die dankbare verligte gesigte?

Sien in jou gees hoe mense se kontekste en welwese verander namate jy gehoorsaam word.

Neem my lewe laat dit Heer

U gewy wees meer en meer.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae