ToekomsVenster: Die genesing van Petrus se skoonmoeder

vertroosting

Argieffoto.

Toe die mense uit die sinagoge kom, het hulle saam met Jakobus en Johannes reguit na die huis van Simon en Andreas toe gegaan. Die skoonmoeder van Simon het daar met ʼn hoë koors siek gelê, en hulle het Hom dadelik van haar vertel. Hy het na haar toe gegaan, haar hand gevat en haar regop gehelp. Toe het die koors haar verlaat, en sy het hulle bedien. – Markus 1:29-31

Daar word baie staaltjies vertel oor skoonma’s, nie waar nie. Dit blyk darem dat Petrus ʼn redelik goeie verhouding met sy skoonmoeder gehad het, anders het hy Jesus dalk nooit vertel van haar siekte nie.

Ag, dis sommer ʼn grappie.

Mense en hul nood, of dit fisiek, geestelik of emosioneel is, behoort die harte van Christene aan te gryp. Dis nie lekker om te sien dat mense swaar kry nie. Petrus stel vir ons ʼn navolgenswaardige voorbeeld. Hy vertel Jesus daarvan. Hy doen meer. Hy bring Jesus na sy skoonmoeder toe. Hier is ʼn baie belangrike les om te leer oor hoe ʼn mens die nood van ander mense wat jou pad kruis, hanteer. Uiteraard kan niemand vir almal verantwoordelikheid aanvaar nie. Elkeen het ʼn verantwoordelikheid om die mense wat die Here oor jou pad bring, dalk by herhaling, op gepaste wyse te behandel.

Petrus doen twee betekenisvolle goed, soos reeds gesê. Hy vertel Jesus daarvan. In eie idioom kan ons dit gebed noem. Hy noem die naam en omstandighede van die betrokke persoon voor God se genadetroon. Dis die toppunt van naasteliefde, naamlik om iemand anders na die Here te bring in gebed.

Daar is egter ʼn ander belangrike oomblik.

Hy bring Jesus na sy skoonmoeder toe. In oordragtelike sin beteken dit om dit waarvoor Jesus staan, barmhartigheid, omgee, liefde, sorg en troos, na mense in nood te bring. Heel konkreet beteken dit dat dit wat jy voor die Here in gebed genoem het jou opdrag word.

“Ek bemagtig jou, doen nou die aangewese ding.” In jou en my situasie mag dit beteken dat ons vir die betrokke persoon gaan bid, bedien, ondersteun, medeverantwoordelikheid neem, en so meer. Om Jesus na mense te bring is konkreet, hang nie in die lug nie, maar kry inhoud deur jou en my optrede en liefde. Bring jy mense na Jesus toe en bring jy Jesus na mense toe?

As ons weer na die teks luister, probeer jouself die verligting van Petrus, sy gesin maar veral sy skoonmoeder indink. Sien jy die dankbare, verligte gesigte? Sien in jou gees hoe mense se kontekste en wese verander namate jy gehoorsaam word.

“Neem my lewe, laat dit, Heer
U gewy wees meer en meer.”

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Gemmertjie ·

My vraag is hoekom kan vandag se Skoon dogters nie do wees met hulle Skoon Moeders nie. Hille behandel hille regtig stief en afsydig. Terwyl dieSkoon Moeders altyd gewillig is om on die huis te help werk.

Alta Niemann ·

Dis jammer dat jy dit so belewe. Daar is egter baie wonderlike skoondogters wat regtig baie vir hulle skoonmoeders doen. die enigste ding wat ons almal kan doen is om self soos Christus te lewe en die wat ons smart gee aan Hom op te dra, Soms is dit weer die skoonma wat moeilik is; daar is nie een algemene standard waarvolgens ons groepe mense kan klassifiseer nie. Daar bestaan nie soiets soos “alle die of alle daardie” nie. Moenie kwaad met kwaad vergeld nie; dikwels neem dit baie jare vir die moedswillige om tot ander insigte te kom. Feit bly God ken almal se omstandighede en harte.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.