ToekomsVenster: Die gevaar van skuld

Argieffoto.

“Die ryke heers oor die armes, en hy wat leen, is ’n slaaf van die man wat uitleen.” – Spreuke 22:7

Raak prakties

Neem ’n wilsbesluit om uit skuld te kom. Stel vir jou finansiële doelwitte en ’n begroting op en hou daarby. Bestee altyd minder as wat jy verdien. Betaal al jou kredietkaarte af en sny hulle op. Vestig dadelik ’n skuldlasverminderingsprogram om jou hoofskuld te delg en op rente te bespaar. Moenie moed opgee nie; dit ís moontlik om skuldvry te leef. Sodra jy skuldvry is, is dit raadsaam om skuldvry te bly.

Iets om oor na te dink

Is dit regtig nodig om ’n eiendom oor twintig jaar af te betaal? Moet ons elke vyf jaar ’n nuwe motor koop? Het jy al gewonder, of weet jy hoeveel rente jy aan die lener betaal? Deesdae, met behulp van die Internet, slimfone en tablette is daar wonderlike finansiële toepassings wat ’n mens help met allerhande take, beplanning en kennis. Daar is meer as een “loan calculator” beskikbaar. Ek wil jou aanmoedig om een af te laai en te gaan kyk hoeveel rente die lener betaal op geld wat geleen word. ’n Huislening van R2 000 000 oor 25 jaar teen 15 % rente sal jou byvoorbeeld ongeveer R300 000 rente vir die eerste jaar uit die sak jaag. Hoeveel ekstra per maand moet ek betaal sodat rente eerder vír my werk en nie téén my nie?

Gebed

Here, gee my asseblief die regte kennis om ingeligte besluite te maak sodat ek klaar kan maak met skuld. Help dat ek gedissiplineerd sal wees met my geldsake.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Andréas ·

Noodsaaklike advies, dankie. Verstaan egter nie die berekening nie. Ek aanvaar die koopprys is Rm2 eerder as Rm200 maar dat slegs 15% vir die 1ste jaar (nie eens rente-op-rente) klaar Rk300 beloop…

Esté Meyer Jansen ·

Dagsê Andréas

Baie dankie vir jou valkoog! Die plasing is gewysig en maak hopelik nou meer sin.

Esté Meyer Jansen
namens
Maroela Media

Trevin ·

Die plasing maak nog steeds nie sin nie. Is die R 300 000 rente net vir die eerste jaar, want oor 25 jaar gaan dit miljoene beloop?

Dis belangrik om die regte inligting weer te gee sodat mense kan sien hoeveel skuld jy nou jouself in kry met R 2m lening. 15% rentekoers is darem ook baie hoog vir ‘n voorbeeld.

Esté Meyer Jansen ·

Dagsê Trevin

Baie dankie vir jou opmerking!
Die bedrag is net vir die eerste jaar en die berig is nou gewysig om dit duidelik te maak.
Die skrywer het die voorbeeld van ‘n 15% rentekoers gebruik as ‘n voorbeeld en alhoewel dit nie die uitleenkoers tans is nie en ‘n mens dikwels ‘n beter koers kan beding, is dit belangrik om te sien wat kan gebeur indien die rentekoers tot die vlakke sou styg, aangesien dit in die verlede al so hoog en selfs hoër was.

Groetnis
Esté Meyer Jansen
namens
Maroela Media

Maria ·

Hoera! Erken was n moeilike besluit om te neem is om my krediet kaart vernietig om aan Here kan vertrou te wees , eerlik dit moeite werd :)
Nadat my kaart vernietig het het Here my gewys dat geld is REEDs voorsien vir my toekoms Dankie Here U is getroud!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.