ToekomsVenster: Die God van liefde

liefde hart

Argieffoto (Foto: Maroela Media)

Verder, broers, wees bly, streef na die geestelike volwassenheid, aanvaar vermaning, wees eensgesind, leef in vrede. En die God van liefde en vrede sal by julle wees! – 2 Kor. 13:11

Ons leef in ’n tyd waar elke mens sy eie waarheid formuleer. Elkeen is geregtig op sy opinie en standpunt.

Insigself is dit nie sleg nie. Ons is vir te lank aan ons neuse rondgelei en ons het soos kinders geglo dat wat ander aan ons voorhou, geloofwaardig en waar is. Helaas het die onlangse geskiedenis ons dwaling uitgewys.

Gelukkig en Goddank het die kerk uit sy foute geleer en ’n ommekeer gemaak.

Mense is vir God belangrik, alle mense. Hy, die Vader van genade het geen voor- en afkeur as dit by mense kom nie. Hy sien net sy kinders en die wat nog nie sy kinders is nie. Ons roeping is om ander namens Hom uit te nooi om deel te word van daardie geloofskring, huisgenote van die geloof, kinders van die Vader.

Terug na die diverse samelewing waarin verskillende denke aan die orde van die dag is. Daar was ’n tyd wat mense gevra het, wat sê die kerk oor hierdie of daardie saak. Die kerk het daardie voorreg in hoë mate verloor. Mense verklaar ruiterlik dat hulle selfs die kerk nie meer glo nie. “Ons formuleer ons eie waarheid,” en so leef hulle.

Dit is ’n voorreg om ’n mening te hê en dit te mag uiter. Daar is egter voorwaardes. Jou mening is net dit, ’n mening. Ander het ook hul verstaan van ’n saak. Om dan dogmaties te verklaar dat jou siening van ’n saak bo alle twyfel waar is, is aanmatigend. Daarmee verwys ek uiteraard nie na die fundamentele sake van ons geloofslewe nie. Ek verwys jou weer na die Apostolikum as vertrekpunt.

Ander sake word beredeneer en weer beredeneer. Die wêreld verander teen ’n verbysterende spoed en dit is noodsaaklik om te vra of jou standpunt nog water hou in die lig van nuwe inligting, kennis, uitdagings, ens.

Gereformeerdes reformeer weer en weer. Hulle is nooit daarmee klaar nie. Dit behoort vir almal te geld. Mens noem dit nederigheid.

Ek praat nie van ’n verkleurmannetjie mentaliteit wat terwille van konflikvermyding met alles saamstem wat ander aan jou voorhou nie. Ek praat wel van die aktualiteite van die dag, baie waarvoor ’n mens nie ’n teksversie kan gaan haal wat klinkklaar die aangewese pad aandui nie.

Jy moet jou laat lei deur die groot lyne in die Bybel en telkens vra hoe dit in ons omstandighede interpreteer moet word. Die belangrikste daarvan is dat God, liefde is. As iets nie die toets van liefde slaag nie is dit nie van Hom nie.

Dis uitdagend maar dit is verantwoordelik.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.