ToekomsVenster: Die grootsheid van God se genade

(Foto: Andrea Piacquadio/Pexels)

“Met my hele wese smag ek na u gebooie, verlang ek daarna.” – Psalms 119:131 (AFR83)

Ek soek op die internet na die snit van Frieda Kruger waar sy die lied “Asem” sing. Ek blaai verder op die bladsy en sien dat daar verskeie liedere is wat met asem te doen het. Een so ʼn lied se naam is “Snak na asem”.

Wat is dit wat jou en my na ons asem laat snak?

Dit is darem ʼn mooi idioom.

Ek vermoed dat “snak na asem” meermale in ʼn positiewe sin gebruik word. Wanneer iets my buitengewoon aanspreek, my verras, sal ek dalk sê “ek het na my asem gesnak”.

Toegepas op ons verhouding met die Here wonder ek of ons nog na ons asem snak wanneer ons met die heerlikheid, die grootsheid van God, sy skeppingsdade, sy verlossingsplan vir mense gekonfronteer word?

Die gevaar is groot dat ʼn mens so gewoond raak aan dit wat in Christus Jesus ons deel geword het, dat dit ons nie meer aanspreek, ons verras, oorweldig, ons na ons asem laat snak nie.

Ek dink byvoorbeeld daaraan dat ons op ʼn Sondagoggend tydens die erediens sal sing “God is hier teenwoordig, laat ons biddend nader, hier waar ons voor Hom vergader”.

Probeer net die implikasie van die woorde “God is hier teenwoordig” te bedink.

Die God van hemel en aarde, die Skeppergod, die God wat niks van ʼn mens nodig het nie, self genoegsaam, onbeskryflik groot en heerlik is, waarvoor geen woorde gevind kan word om Hom na behore te beskryf nie, daardie God is by ons in die erediens teenwoordig.

Uiteraard ook teenwoordig in ons persoonlike lewens van dag tot dag deur die inwoning van die Heilige Gees.

Ondenkbaar, onverstaanbaar en genoeg om ʼn mens na jou asem te laat snak!

Miskien moet ons vir ʼn oomblik, in die lig van dit wat ons die afgelope paar dae met mekaar gedeel het, nie net “opkom vir asem nie”, nie net daaraan dink dat ons in die ewigheid “nie sal asemhaal nie” en juis daarom ons asem in die hier en nou sal waardeer.

Kom ons laat in die besonder ook die Gees toe om iets van die grootsheid van God se genade, sy teenwoordigheid, sy almag, sy omgee en sy liefde by ons tuis te bring; soveel so dat ons weer vir ʼn slag na ons asems sal snak.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.