ToekomsVenster: Die Heilige Gees is met jou

sparkler-lig-glo-geloof-hoop

Foto: Freestocks.org/Pexels

Julle, geliefdes, moet egter voortgaan om julle lewe te bou op julle allerheiligste geloof. Bid altyd deur die krag van die Heilige Gees. – Judas 1:20

Dier Heilige Gees en sy werk is onontbeerlik in die lewe van ʼn gelowige. Daar is letterlik niks wat ons kan doen wat betekenisvol is en in belang van die Koninkryk en ons eie geestelike vorming staan wat nie in en deur die Heilige Gees moet plaasvind nie. Ons begin letterlik in die Heilige Gees en op die laaste dag sal dit die HG wees wat van ons kindskap getuig.

In die ou Testament het die Heilige Gees op sommige persone en met die oog op ʼn spesifieke taak gekom. In die Nuwe Testament word die Heilige Gees gegee aan elkeen wat Jesus as Verlosser en Here bely. Ook daardie belydenis is deur die Heilige Gees wat ons weereens met die misterie van ons eie geloofswandeling konfronteer.

Aan die vooraand van Jesus se hemelvaart bemoedig hy die bewoë en ontwrigte en onsekere dissipels dat dit inderdaad tot hul voordeel is dat die Heilige Gees kom. Hy gee hulle opdrag om nie met die werk wat aan hulle opgedra is voort te gaan, alvorens hulle met krag van Bo toegerus is nie. Ons vind hulle , 120 van hulle, saamgetrek in die bovertrek wagtend op die vervulling van die Vader. Die Pinkstergebeure is aan ons bekend en die Gees word op besondere wyse uitgestort. Die eens skugter en bang Petrus om een voorbeeld te noem tree met oortuiging op, soveel so dat ʼn ryke oes van meer as 3000 mense tot bekering kom.

Na die Heilige Gees se uitstorting is dit die norm. Menigte mense word aangeraak deur die Evangelie verkondiging, genesings en wondere vind plaas en die Koninkryk kom in krag en heerlikheid.

Dit spreek vanself dat dan nie net geloofspraktyk soos ons dit ken deur die Gees plaasvind nie maar uiteraard veral gebed.

Jesus praat met die Samaritaanse vrou en belowe haar water wat haar nooit weer dors sal laat nie. Sy verneem na die aangewese plek om God te aanbid. Samaritane bid op hierdie berg, Gerisim, terwyl die Jode daarop aanspraak maak dat Jerusalem en die tempel die plek van God se teenwoordigheid is. Jesus verseker haar dat die tyd gekom het waar die ware aanbidders die Vader deur die Heilige Gees en in waarheid sal aanbid.

Die Bybel leer ons dat die Gees vir ons intree met onuitspreeklike versugtinge. Ons weet inderdaad nie wat en hoe om die bid nie en is dikwels verleë dat ons selfs die begeerte van ons eie hart nie kan verwoord nie. Die Gees van God tree op ʼn wonderlike wyse by die genadetroon van God in. Die Heilige Gees is derhalwe noodsaaklik vir ʼn betekenisvolle gebedslewe.

Vra Hom sommer uit die staanspoor om jou daartoe te bekwaam.

“Die mense wat die meeste vir God in hierdie wêreld gedoen het, was die wat vroeg op hul knieë was. Hy wat die geleentheid en varsheid van die vroeë oggend mors met ander aktiwiteite eerder as om God te soek, sal swak vordering maak op soek na Hom die res van die dag. As God nie eerste in ons gedagtes en pogings in die oggend is nie, sal Hy in die laaste plek wees vir die res van die dag.” ~ E.M. Bounds

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

humor ·

Veral die woorde van E.M. Bounds is baie waar. Om die dag met jouVADER en VERLOSSER te begin, is om heel dag gedra te word, en dit is dan soveel meer genoegsaam en vol vrede om dan in die aand jou kop op jou kussing neer te le.

Leeutjie ·

As ons toelaat dat die Gees ons lei sal daar nie meer moord en doodslag wees nie. Moordenaars en verkragters ken HOM nie!!! O wee hulle!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.