ToekomsVenster: Die Heilige Gees vernuwe ons


God-sentrum-van-my-lewe

Argieffoto.

Wanneer Sy stem in ons stil raak

Ons gaan almal deur fases waarin ons die Heilige Gees mooier hoor en nader aan God beweeg. En dan kom daar tye dat God se Woord nie regtig tot ons spreek nie. Ons lees steeds die Bybel, maar oppervlakkig. Dis asof die woorde tussen die lyne van Romeine verlore raak; asof die openbarings van Openbaring vaag en ver geraak het en die inhoud van Genesis blote geskiedenis geword het. Dan versamel ons kennis, eerder as om die Heilige Gees toe te laat om ons lewens te verander. Natuurlik is kennis aangaande God en Sy Woord baie belangrik.

Dit bied ons ’n verwysingsraamwerk waarbinne ons Hom kan leer ken en onsself beter kan verstaan. Die Woord van God het egter nog nie sy ware doel in ons bereik voordat ons nie die Heilige Gees toegelaat het om ons te laat word wat ons gelees het nie. Daar moet vrug in ons lewens wees. Ek en jy moet verander in ooreenstemming met wat ons gelees het.

Wanneer woord waarheid word

Kom ons dink bietjie oor Matteus 22:38, waar Jesus die Wet opgesom het deur te se dat ek en jy God met ons hele hart, ons hele siel, ons hele verstand en al ons krag moet liefhe. Dink jy Jesus wou maar net beskryf dat ons God baie lief moet hê, of dink jy dat daar geleenthede is wat ons nodig het om al ons kragte te mobiliseer om God lief te hê? Liefde vir God is tog groter as ’n verstandswete. Dis ’n instink wat ons heeltyd in God se rigting laat dryf. Dis ’n keuse om Hom bo alles te kies en in alles te gehoorsaam. Het jy al die Heilige Gees toegelaat om hierdie opdrag in jou te verlewendig? Vra van vandag af vir die Heilige Gees om jou voortdurend terug te lei na tekste met ewigheidswaarhede totdat dit uiteindelik gestalte begin kry in jou.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoekwww.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.