
(Foto: Jackson Jorvan/Pexels)
“Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word.” – Hebreërs 4:16
Is hierdie nie ʼn vriendelike teks nie? Dit is asof die Here self met oop arms staan en ons nader wink.
Ons het so gewoond geraak aan die idee dat die Here gereed staan om tereg te wys. Ek wonder stellig hoeveel daarvan te make het met die wyse waarop ons aardse vaders beleef het. My pa was kwaai en ek het geweet waar ek met hom staan. Ek is nie ondankbaar vir die dissipline wat hy my geleer het nie, maar die gevaar is groot dat iets van die intieme verlore kan gaan.
God is anders. Die stel reëls van sy koninkryk is liefde. Liefde is nie ruggraatloos nie, akkommodeer nie alles net terwille van liefde nie. Kinders van die Here handhaaf die beginsels wat hoort by die Koninkryk van God. Die Ou Testament som dit in die Tien Gebooie op. In die Nuwe Testament is daar verskeie opgawes waar die wyse waarop burgers van God se ryk optree, uitgespel word. Dink maar aan Galasiërs 5 waar die vrug van die natuurlike mens teenoor die van die geestelike mens uitgespel word.
Te midde van dit alles is God se uitnodiging steeds vriendelik en hartlik. Ons kan sy troon met vrymoedigheid nader, omdat ons in die Naam van sy Seun na Hom toe gaan.
By Hom, ons Vader, is daar genade en barmhartigheid.
Sy troon is ʼn genade-troon. Genade is onverdiend. God deel dit oorvloedig uit aan elkeen wat daarna vra.
Sy hart is sag en toeganklik. Ons kan met ons nood en uitdagings na Hom toe gaan en weet dat ons nie verwyt of tereggewys word nie, selfs al verdien ons dit.
By God is daar altyd ʼn nuwe begin. Hy sien nie ons mislukkings raak nie, maar ons moontlikhede.
Hy omhels die potensiaal wat ons verteenwoordig, eerder as om op dit wat ons nagelaat het te konsentreer.
Het jy genade en ʼn sagte hart nodig vandag?
Die hemel se deur staan oop, staan op vir jou en my.
- ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.
Dankie Jannie