ToekomsVenster: Die Here hoor jou wanneer jy roep

(Argieffoto: Pixabay)

Loof die Here, want Hy is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie!’ So moet die mense sê wat deur die Here bevry is, dié wat Hy uit hulle nood bevry het. – Psalm 107:23-30

Hierdie is ʼn merkwaardige Psalm wat verhaal hoe mense in nood, en in verskillende kontekste, hul behoeftes na die Here toe gebring het en hoe Hy uitkoms gegee het. Blaai gerus deur Psalm en kyk hoe die verskillende afdelings begin. Sommige van die omstandighede waarin mense hulself bevind het, is nie deur hulle toedoen veroorsaak nie. Daar gebeur so baie dinge met ons waaroor ons nie beheer het nie. Ek haal aan:

“Party was verdwaal in die woestyn – maar in hulle nood het hulle na die Here geroep om hulp en Hy het hulle gered. Party het in die donker gesit, in diep duisternis – maar in hulle nood het hulle na die Here geroep om hulp, en Hy het hulle bevry van hulle ellende.”

Dan is daar ander situasies waarvoor niemand anders blameer kan word as onsself nie. Ons eie dwaasheid, stiksienigheid, eiesinnigheid en blindheid veroorsaak dat ons in onverkwiklike situasies beland. Dit is so wonderlik om geen verwyt en vingerwysing van God se kant af raak te lees in die Psalm nie. Die Here sou met reg kon sê dat ons self die verantwoordelikheid moet dra vir die toedrag van sake. Hy sou kon sê dat Hy ons herhaaldelik gewaarsku het en dat die tekens lank reeds daar was dat die besondere optrede ons in die moeilikheid gaan laat beland.

Ons mag in die diepste ellende verkeer maar daar kom geen verwyt van God se kant af nie. Die refrein is aansteeklik en Goddelik: “in hulle nood het hulle geroep en die Here het hulle bevry van die ellende”. Toegegee, sommige ellende speel uit in ons lewens. Optrede het gevolge en ons sal daarmee moet verlief neem. Die Here is egter in staat om ons te ontmoet en deur te dra. Sy vergifnis is mildelik en onvoorwaardelik. Hy steek sy Hand van genade na ons uit sonder om te beskuldig.

Dalk is jy in so ʼn situasie. Luister na die teks in Psalms 107 saam met my:

17 – “Party het dwaas opgetree, en deur hulle rebelse optrede, hulle sonde, het hulle in die ellende beland. Maar in hulle nood het hulle na die Here geroep om hulp, en Hy het hulle bevry van hulle ellende.”

20 – “Hy het hulle met ʼn enkele woord gesond gemaak, hulle aan die dood laat ontkom.”

Dankbaarheid is die enigste sinvolle reaksie op die genade van God. Ons mag nie vergeet waar die Here ons kom haal het nie.

Hoor wat sê dié teks in Psalms 107:

21 en 22 – “Hulle moet die Here loof vir sy troue liefde, vir sy wonderdade wat Hy aan mense doen. Hulle moet dankoffers bring en met blydskap van sy dade getuig.”

Die Here is nie ver nie. Hy hoor jou wanneer jy roep.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.