ToekomsVenster: Die Here is my Herder

Here-is-my-Herder

Argieffoto.

Psalms 23:1-3 – ’n Psalm van Dawid. Die Here is my herder, ek kom niks kort nie. Hy laat my rus in groen weivelde. Hy bring my by waters waar daar vrede is. Hy gee my nuwe krag. Hy lei my op die regte paaie tot die eer van sy Naam.

Elke gelowige het ʼn teks of teksgedeelte wat besonder waardevol en betekenisvol is. Dit kom gewoonlik na ʼn besondere gebeurtenis en konteks wat die vers of versgedeelte vir jou lewend gemaak het.

Uiteraard is die hele Woord lewend en kragtig. Die Bybel is duidelik daaroor. Ek dink egter nie die Here het ʼn probleem daarmee dan ʼn sekere gedeelte vir jou kosbaar is nie. Trouens, daar is waarskynlik meer sulke gedeeltes.

Ek wonder vir hoeveel van u wat hierdie reeks volg Ps. 23 besondere betekenis het? Waarskynlik baie mense.

Sommige verkies die Ou vertaling van die Bybel en ander is gemaklik met die meer dinamiese `83 vertaling. “Die Here is my Herder, niks sal my ontbreek nie” of “Die Here is my Herder, ek kom niks kort nie”.

Ons kan gemaklik  identifiseer met ʼn landelike omgewing waar ʼn herder getrou ʼn waaksame oog hou oor skape wat ʼn maklike prooi is vir roofdiere. Skape kan hulself nie verdedig nie. Ek dink nie ek het al ooit ʼn skaap in ʼn geveg gesien nie. Skape is uiters kwesbaar en diep afhanklik.

Dit is die Herder se voorreg en verantwoordelikheid om na die skape se wel en wee om te dien.

In die Johannes Evangelie word die ware herder van die dagloner onderskei. Lg. is nie bereid om sy lewe op die spel te plaas vir die skape nie. As die gevaar dreig maak hy dat hy wegkom. Die skape moet maar self sien regkom.

Nie die goeie Herder nie. Hy lê sy lewe af vir die skape. Hy is getrou tot die dood toe. Hy lei hulle na waters waar daar rus is, groen weivelde waar hulle na hartelus kan wei.

Hy begelei hulle daagliks na die veilige hawe van die stal en gaan lê self in die opening sodat diewe en inbrekers nie naby kan kom nie.

In Christus is God ons goeie Herder. Is jy gewillige en dankbare volgeling van die Herder?

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Yvonne

Amen…..dankie Here dat U U lewe afgele het vir sondaars soos ek