ToekomsVenster: Die Here is my redder

Foto: Rose Erkul/Unsplash.com

My gedagtes gaan sommer onmiddellik na die bekende lied:

Here, Redder, Groot en Magtig,
U oorskou ons lewens pad!
In U liefde en genade het U ook my hand kom vat.
Heer ,U leiding bring bevryding-
U het ook my hand kom vat.

Jesus red ons van meer as sonde. Hy red ons van ons selfgerigtheid en selftevredenheid.

Mense is uit huis uit effe arrogant en dink dat hulle alleen en self kan regkom. Dit lê in die hart van die oersonde.

Toe ons een seun klein was kon hy nie verdra ʼn mens moet tussenbeide tree en hulp aanbied nie. Ek hoor nog sy stemmetjie – “ek sal self, ek sal self”.

Ons streef mos maar almal na onafhanklikheid. Op verskillende terreine probeer ons onsself op so ʼn wyse beveilig dat ons nie in ander se oë hoef te kyk nie.

Maar om by wyse van spreke in Jesus se oë te kyk is juis om jou veilig te stel. Ons kan letterlik niks sonder Hom doen nie, ongeag hoe ander mense daarna kyk.

Die lewe bring my telkens by plekke waar ek nie herwaarts of derwaarts weet nie. Ek sit graag my hand in die Hand van Een wat sterker en wyser is as ek.

Dit is genade dat ek en jy voortdurend in ʼn verhouding met ons Redder kan leef. Die ewigheid gaan ons verras met presies waarvan Hy ons telkens gered het.

Welkom by die afhanklikes, die swakkes en die gebrokenes. Ek verkondig graag aan jou ʼn Redder, sterk en magtig.

Die volgende strofe van die lied lui:

U, my Redder, groot en magtig,
U het my ook raakgesien.
Ek is feilbaar, swak, onseker, tog wil ek U dankbaar dien!
God, my Here – U is Here!
Vas kan ek op U vertrou!

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Von ·

Jesus my redder…dankie Here…..dit is so n pragtige lied. Wat ek min in die kerk hoor…dankbaar sing ek saam die Oorwinnings lied…..Amen

HouHoop ·

Baie dankie Here Jesus vir u wonderlike redding en verlossing. Dankie dat U ons lei en naby is. Amen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.