ToekomsVenster: Die Here is my rots

see_rotse_kaap_stiltetyd.jpg

(Foto: Suné van Heerden)

Die Here is my rots, my skuilplek en my redder, my God, my rots, by wie ek skuil, my skild en sterk verlosser, my veilige vesting. – Psalms 18:3

Digby die plekkie waar ons gebly het, is daar ʼn pragtige huis wat oor die see uitkyk. Sover as wat jy kan sien, van die een kant na die ander, strek die wye oseaan voor jou uit. Reg voor is daar pragtige rotse, groot en geanker.

Op die dag van gevaar sal die Here my wegsteek in sy huis, my veilig laat skuil in sy woonplek, my hoog op ‘n rots laat staan – Psalms 27:5

Die merke wat die oseaan daarop gelaat het, is sigbaar. Dit is bykans soos ʼn kunswerk. Hier en daar maak ʼn klein poeletjie water hom tuis in ʼn klein holte in die rots. Tussen die rotse swem klein vissies rond en grillerige krappies skuil in die skaduwee. Jy voel klein en onbelangrik wanneer jy jouself op die rotse tuismaak.

Terwyl jou oë oor die uitgestrekte oseaan uitkyk dink jy aan God, die onwankelbare en betroubare rots. Die woorde van die lied kom by jou op: “Jesus Rots vir my geslaan, laat my nie verlore gaan”.

Jy dink aan Moses en sy voortvarende optrede toe hy die rots geslaan het in stede daarvan om daarmee te praat en die prys wat hy daarvoor moes betaal.

Jy hoor die woorde van onverskillige mense wat in die oordeelsdag in rotse sal gaan skuil.

Dan sal hulle vir die berge sê: Val op ons! en vir die heuwels: Bedek ons! – Lukas 23:30

Tekste wat rotse as plekke van skadu en beskutting beskrywe kom by jou op. Vir ander weer sal vallende rotse ʼn uitkoms wees eerder as om rekenskap aan die lewende God te gee.

Rotse is ʼn metafoor vir die betroubare beloftes van God. Jy kan daarop reken, Hy sal jou nie teleurstel nie. Om wanneer jy skielik jouself aan die diep kant van die lewe te bevind, ʼn rots onder jou voete te voel, is gerusstellend.

Waarlik, wie anders as die Here is God? Ja, wie anders as ons God is ‘n rots? – Psalms 18:32

Ek wonder wat vandag jou behoefte is? Jy sal die Rots onder jou voete voel as jy daarna soek.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.