ToekomsVenster: Die Here is op hierdie plek

(Foto: Antoinette Meyer)

Abram het uit Egipte na die Suidland toe getrek, hy en sy vrou met al sy besittings, en Lot saam met hom. Abram was baie ryk aan vee en silwer en goud. Hy het van plek tot plek uit die Suidland getrek na Bet-El toe, na die plek waar sy tente aan die begin gestaan het, tussen Bet-El en Ai, die plek waar hy vroeër ‘n altaar gebou het. Daar het Abram die Naam van die Here aangeroep. – Gen. 13:1-4

Abraham herbesoek ʼn stilhouplek in sy lewe. Die teks vertel dat hy voorheen reeds by Bet-El, die huis van God as ʼn mens dit vertaal, aangedoen het. Daar het hy ʼn altaar gebou. Die altaar verteenwoordig ʼn plek van ontmoeting met die Lewende God, die Een wat hom uit Ur van die Galdeërs geroep het na ʼn onbekende bestemming.

Soos in die verlede roep Abraham die naam van die Here aan, ʼn metafoor wat doodgewoon beteken dat hy oor God nadink, Hom aanbid en sy hart met Hom deel.

Dit is nodig dat ons die monumente in ons lewens, die tye van ontmoeting, van stilstaan, van ʼn betekenisvolle ervaring met God hê, van tyd tot tyd herbesoek. Ek heg persoonlik baie waarde aan monumente in die geloofslewe oprig. Soms is dit ʼn klip wat ek optel en op my lessenaar neersit. Soms is dit ʼn kers, blom, boom, maak nie saak nie solank die saak vir jou betekenis het.

In my vensterbank staan ʼn klein staalhouertjie met geroeste doringdraadstukkies daarin. Dit verteenwoordig een van die moeilikste en donker tye in my lewe. Ek was opstandig, kwaad, verward en baie hartseer. Dit gebeur tog met ons almal. Die gebeure en omstandighede is persoonlik van aard en sal ander net verveel. Dit verteenwoordig egter ʼn draaipunt in my lewe, my verstaan van God en sy bedoeling met my.

Elke keer wanneer ek daarna kyk word ek herinner aan daardie tyd. Daar het weer baie water in die see geloop sedertdien, maar die vorming wat daardie tyd in my lewe tot gevolg gehad het, bly my by.

Herbesoek van tyd tot tyd die groter oomblikke van jou lewe. Ons beleef God nie altyd ewe naby nie maar dit is tye waar ons soos ʼn  Jakob moet bely: “waarlik, die Here was op hierdie plek”.

Jakob het wakker geskrik en gesê: “Die Here is op hierdie plek, en ek het dit nie besef nie.” – Gen. 28:16

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Yvonne ·

Here hoe dikwels as lewens storms my omgeslaan het, het ek terug gekyk en besef U was al die tyd by my….Amen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.