ToekomsVenster: Die Here is ryk aan barmhartigheid

lavender-hemelruim

Foto: Unsplash.com

Broers, neem die profete wat in die Naam van die Here gepraat het, as voorbeelde van lyding en geduld. Ons noem hulle geseënd omdat hulle volhard het. Julle het gehoor van die volharding van Job en julle het gesien waarop die Here dit laat uitloop het. Die Here is immers ryk aan barmhartigheid en ontferming. – Jak. 5:10-11

Job het, alhoewel hy sy geboortedag vervloek het nie toegegee aan die suggestie van selfs sy vrou dat hy God moes vervloek nie.

Job 2:9 – En sy vrou het vir hom gesê: “Bly jy nog steeds vroom? Vervloek God en sterf!”

Dis juis wat die duiwel aangevoer het Job sal doen as die Here hom laat swaarkry.

Job 2:5 – Maar raak nou net aan sy liggaam en kyk of hy U dan nie in u gesig vervloek nie.” Job het wel sy geboortedag verwens.

Job 3:1 – Toe het Job begin praat en sy geboortedag vervloek.

Aan die einde van sy lydingspad bely hy dat die Here gegee en geneem het.

Job 1:21 – “Sonder iets het ek in die wêreld gekom en sonder iets gaan ek daaruit. Die Here het gegee en die Here het geneem. Prys die Naam van die Here.”

Daarmee erken hy die soewereiniteit van God in alle sake. Alhoewel hy nie die agtergrond van sy hartseer en swaarkry geken het nie het hy nie toegegee aan opstand en rebellie teen God nie. Aan die einde het die Here Job met soveel meer geseën as wat hy aanvanklik gehad het.

Dis ʼn baie moeilike verhaal – die van Job en dit laat vrae in die gemoed van die wat dit lees. Feit van die saak is dat die lewe nie altyd in alles deursigtig is nie en ʼn mens die genade moet vind om die Here in goeie en oënskynlike slegte tye te vertrou. Hy sal ʼn mens nie teleurstel nie, sê Ps. 34.

Dit is ook so dat daar ʼn graad van lyding is in die lewe van elkeen wat dit ernstig bedoel met die Here. Immers die teks leer ons dat ons nie alleen vir die Here moet lewe nie maar ook geroep word om vir Hom te ly.

Fil. 1:29 – God het julle die voorreg gegee om Christus te dien, nie alleen deur in Hom te glo nie, maar ook deur vir Hom te ly.

Daar is sprake van ʼn juk en ʼn las, weliswaar lig en sag maar tog teenwoordig.

Matteus 11:29 – Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed.

Die gemeentes waarvan ons lees in die nuwe Testament het almal hul kwota ongemak beleef.

2 Korintiërs 4:17 – Ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan verby, maar dit loop vir ons uit op ‘n heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig bly.

Petrus help ons om swaarkry as vermaning, as opvoeding en toerusting te omhels. So word karakter gevorm en word ons Christus al hoe meer deelagtig. Die Here is ryk aan barmhartigheid en ontferming.

“Verheug julle hieroor, selfs al is dit nodig dat julle ‘n kort tydjie bedroef gemaak word deur allerhande beproewings sodat die egtheid van julle geloof getoets kan word. Julle geloof is baie kosbaarder as goud, goud wat vergaan. Selfs die suiwerheid van goud word met vuur getoets, en die egtheid van julle geloof moet ook getoets word, sodat dit lof en heerlikheid en eer waardig mag wees by die wederkoms van Jesus Christus.” – 1 Petrus 1:6-7.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.