ToekomsVenster: Die Here se wil

(Foto: Rachel Cook/Unsplash)

Julle moet eerder sê: “As die Here wil, sal ons lewe en sal ons dit of dat doen.” – Jakobus 4:15

Ons is van nature maar voortvarend nie waar nie? Hoe gaan die gesegde: “die mens wik, maar God beskik”.

Soos die wêreld rondom ons te kere gaan lyk dit kompleet asof mense reken dat hulle verewig hier sal wees. Dat alles sal verbygaan en net dit wat op vaste fondamente gebou is die toets van die tyd sal deurstaan, kom nie by baie mense op nie.

My ma het ons altyd daaraan herinner om te sê: “As die Here wil sal ons so en so maak”.

Somtyds kruip mense agter God se sogenaamde wil weg. Sy wil word ʼn verskoning om nie te doen wat gedoen moet word nie. Dit word ʼn verskoning vir wantroue, ongehoorsaamheid en ongeloof.

Sommer maklik word aangedui dat ʼn bepaalde saak nie afgehandel is nie, of opgeskort is, wat die geval ook al mag wees, en dan daaraan toegeskryf word daaraan dat dit “seker nie God se wil was nie”.

Om sy wil so te misbruik en as ʼn verskoning vir ons eie onwilligheid en luiheid aan te bied is uiteraard nie in orde nie. Dit is kortpad kies en God verantwoordelik hou vir iets wat nie voor sy deur gelê kan word nie.

Ai, mense tog. Ons sukkel om verantwoordelikheid te aanvaar vir ons eie mislukkings en soek altyd iemand om daarvoor in te staan, selfs al is dit die Here self.

Aan die ander kant waarsku die teks ons teen voortvarendheid. Jy raak sommer halsoorkop met ʼn saak besig te raak en skryf dit eweneens aan die Here se wil toe. Dit was niks anders as ʼn vlietende gedagte nie maar skielik word dit die wil van die Here.

Wanneer die saak misluk staan Hy natuurlik weer pa vir die mislukking terwyl ons in iets betrokke geraak het waartoe Hy nooit ʼn opdrag gegee het nie.

Mens sien dit in byeenkomste wat gereël word. G’n mens daag op nie of ʼn beskeie klompie lojale ondersteuners maak die eerste ry sitplekke vol. Toegegee, mens moet balans hou en dit is nie vir ander om te oordeel nie maar, jy wonder tog.

Nou word verskonings van allerlei aard aangebied – mense stel nie belang nie – toegegee, daar is ʼn ontstellende onbetrokkenheid by mense en persoonlike gerief speel ʼn belangrike rol.

Die engele word ook betrek. Van hulle was daar ʼn skare, weliswaar onsigbaar. Dan die bekende – “vir die wat daar was het dit baie beteken”.

Dit mag so wees maar ek wonder dikwels of die leë stadion regtig God se eer dien en verkondig.

Vra vir God as dit nie vir jou duidelik is wat Hy wil hê jy moet doen nie. Hy sal jou eenvoudig daardie wysheid gee, en jou nie verwyt dat jy dit gevra het nie.Hiermee wil ek niemand ontmoedig om iets te doen nie, inteendeel. Die scenario’s wat ek bo geskets het was menigmaal my eie ervaring.

Ek wonder maar net oor die wil van die Here, hoe ons dit somtyds gerieflikheidshalwe bytrek ten einde onsself te verontskuldig.

Ons moes dalk net ʼn bietjie langer gebid en beter geluister het.

Vra vir God as dit nie vir jou duidelik is wat Hy wil hê jy moet doen nie. Hy sal jou eenvoudig daardie wysheid gee, en jou nie verwyt dat jy dit gevra het nie. – Jakobus 1:5

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.