ToekomsVenster: Die Here wag vir ons by sy feesmaal

(Foto: Ksenia Chernaya/Pexels)

Psalm 23, “Die Here is my herder” bly ʼn merkwaardige Psalm wat besondere betekenis het veral vir die tyd waarin ons leef.

Dinge raak soms erg deurmekaar en somtyds voel dit asof die Here dalk onttrek het, dat Hy opgegee het met hierdie wêreld en die sondige aard van mense se lewens.

Ek sou die Here nie kwalik neem as hy sê, die kool is die sous nie werd nie. Mense bly onverskillig, ongeag hoe moeilik omstandighede rondom hulle ook al is. Omstandighede wil mense somtyds tot bekering roep, maar dit blyk dat baie mense te midde van negatiewe omstandighede volhard op die verkeerde weg.

Tog het die Here nie met ons moed opgegee nie.

Ek herinner my aan die ervaring wat Abraham gehad het met Sodom en Gomorrah. Ja, selfs te midde van enkele regverdiges was God bereid om ʼn pad van genesing en herstel met die stad te loop. Dis so hartseer dat in daardie stad selfs enkele regverdiges nie gevind kon word nie. Mag dit nie waar wees van ons nie.

Psalm 23:5 vervolg:

U laat my by ʼn feesmaal aansit terwyl my teëstanders moet toekyk.

Dit is darem ʼn baie interessante vers, nie waar nie?

Dawid het talle vyande gehad, selfs familielede het teen hom gedraai. Hy moes dikwels vlug, maar die Here was altyd daar.

Maaltye is ʼn tyd van gemeenskap, geselskap met mense vir wie jy omgee. In hierdie geval is God self die gasheer. Dit moet vurige rooi kole op die digter se vyande se hoofde stapel wanneer hulle raaksien dat God sy kind beskerm en soos ʼn eregas behandel.

Die duiwel probeer om die kinders van God te beroof en te verrinneweer, maar die Here tree toe tot die stryd. Dis ook nie sommer enige maaltyd nie. Dit word as ʼn feesmaal beskryf. Net die beste word aan sy kinders voorgesit.

Dis darem merkwaardig hoe die rolle in hierdie Psalm omgeruil word. Dit is tog ons wat vir God ʼn feesmaal moet voorberei, maar hier doen Hy dit. Dit is tog ons wat Hom soos ʼn eregas behoort te ontvang, maar dit is sy ingesteldheid teenoor ons.

Die digter praat van hartlikheid. Daar is ʼn glimlag op die gesig van God, Hy is bly om ons te sien, Hy gee nie blyke daarvan dat nie Hy haastig is en ander afsprake het om na te kom nie.

Hy vertoef solank as wat dit nodig is. Hy luister na elke woord wat ons uiter, Hy stel belang en vra uit, Hy gee goeie raad en bemoedig ons vir die pad van geloof.

Ons moet net aansit, opdaag, die uitnodiging aanvaar en sy vriendelikheid omhels.

In die Nuwe Testament word daar vertel van ʼn man wat mense uitgenooi om by hom te kom eet, weliswaar sy vriende. Die een na die ander verskoning is aangebied, soveel so dat die gasheer sy slawe opdrag gegee het om mense op die straathoeke te versamel en na die feesmaal te begelei.

Tragies en hartseer dat ons tyd saam met die Here so dikwels afskeep. Die feesmaal is gereed, die gasheer wag op ons, ons moet net opdaag.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Vonny ·

Suid Afrika draai terug na
GOD.
NET HY KAN ONS RED IN DIE
STUKKENDE LAND!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.