ToekomsVenster: Die hier en nou

Foto: Pixabay.com

“Gee ons vandag ons daaglikse brood.” – Matt 6:11

Die gebed betrek God by ons hier en nou. Jy mag maar met die grootste vrymoedigheid met Hom praat oor jou behoeftes. Ons ís na alles liggaam, siel en Gees. Ons liggame het nodig om omvattend gevoed en versorg te word. Ons is ʼn eenheid.

God het ons lief in elke dimensie van ons menswees. Ons behoeftes raak Hom. Hy versorg soos ʼn Vader. Soos Hy in die woestyn gesorg het deur manna en kwartels en water uit ʼn rots doen Hy steeds. Die honger skare word nie weggestuur om self te sien kom klaar nie. Hy neem nie net kennis nie. Hy kry jammer.

Hy raak betrokke soos Hy wil hê dat ons betrokke sal raak.

Die rantsoene is vir vandag bedoel. Môre het nog nie aangebreek nie. Hy sal môre ook sorg. Gister se voorsiening het bederf. Sy genade is daagliks vars en genoeg. Vertrou Hom daarvoor.

Ons doen egter ons deel soos die Here dit van ons verwag. Ons woeker en werk. Ons gee die erkenning egter aan Hom. Daar is niks vanselfsprekende en outomaties aan sy voorsiening nie. Dis genade. Dit stem ons tot diepe dankbaarheid.

Daar is soveel mense wat nie vandag se brood het nie. God gee genoeg dat ons kan uitdeel. Soveel kos gaan verlore en word na dae in die yskas summier weggegooi. Dit kon iemand se honger gestil het. Ons kan gerus ʼn ekstra bord uitskep vir die man by die straathoek. Hy sal Jesus in jou raaksien. Hy sal in stille aanbidding voor die Koning buig omdat jy omgegee het.

Daaglikse brood. Ons leef dikwels baie rojaal terwyl daar soveel mense is wat nie genoeg inneem nie. Ek dink veral aan kinders wat honger gaan slaap en het nou die dag ʼn ontstellende berig gelees oor hoeveel kinders in daardie kategorie val. Dit is hartverskeurend.

Dit is erg wanneer gedink word dat voedsel produkte weggegooi word ten einde pryse sinteties hoog te hou. Dit skree ten hemel.
Die woorde van Jesus het betrekking toe die 3000 en by ʼn ander geleentheid 5000 gevoed is. “Gee julle vir hulle iets om te eet”.

“Dit is nodig om te herhaal en weer te herhaal dat gebed, as ‘n blote gewoonte, of as ‘n optrede wat as roetine en bloot professioneel gedoen word ʼn dooie ding is en uiteindelik verrot.” ~ E.M. Bounds

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.