ToekomsVenster: Die jeug is in opmars

juanita-badenhorst-13

Foto: Juanita Badenhorst.

Lees: 1 Timoteus 4:12:

“Niemand mag op jou neersien omdat jy jonk is nie, maar wees jy vir die gelowiges ‘n voorbeeld in woord en gedrag, in liefde, geloof en reinheid.”

Terwyl ons bid vir die hele bevolking in ons land, moet ons sorg dat die jeug behoorlik betrek word. Ouer mense met hul ervaring en wysheid het ’n belangrike rol om te speel, maar die jongmense met hul drome en insigte, met hul borrelende entoesiasme, het ’n heel unieke bydrae om te lewer. Daar moet uitgereik word na die skoliere en studente in Suid-Afrika, na die jong suksesvolle entrepreneurs én die gefrustreerde jong mans en meisies wat in lang toue staan om werk te kry. Hulle moet ’n spreekbeurt kry – en ons moet met oop ore luister!

Gebed:

Vader God, Ons roep na U vir ons jeug! Hulle het vaders en moeders nodig wat hulle sal seën en hulle aanmoedig om drome en begeertes te vervul. Sal U ons harte na mekaar draai? Beskerm ons jongmense van die baie gevare en versoekings wat die wêreld hulle bied. Rig ’n geslag van jongmense op wat hulself vreesloos aan U toewy. Rig die leiers van môre op. Verwyder die las van die verlede van ons toekomstige generasie. Vader, ons het U nodig. Amen!

Leefwyse:

Die jongmense, ook ons eie kinders, hou ons stip dop. Trek ons dade ʼn streep deur ons vroom woorde?

Om oor na te dink:

Vir Paulus was dit baie belangrik om die jong Timoteus toe te rus en aan te moedig, om hom te help om sy talente en geleenthede raak te sien en te gebruik. Kan ons dit ook doen? Kan ons ʼn jong man of ʼn jong meisie ʼn kans gee in die lewe? Ons het baie om te gee – as ons net wil.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.