ToekomsVenster: Die kerk en die tiende

geld-muntstukke-sente-kleingeld

Foto: Pixabay/Pexels.com.

Dis nie vreemd dat die tiende vraagstuk sy kop uitgesteek het in baie van die dagstukke nie. Die rede daarvoor is dat baie gelowiges hierdie model van gee graag gebruik wanneer dit by finansiële ondersteuning van die kerk kom. Week vier het bietjie dieper gaan kyk na die tiende en die kerk en dit is uitgewys dat daar meer as een tiende in Israel betaal is.

Die eerste tiende is gebring na 48 verskillende stede regoor Israel, soos wat deur Moses bepaal is. Hierdie tiende was aan die Leviete gegee vir die dienswerk wat hulle in die tent van ontmoeting verrig het. ’n Tiende van die eerste tiende is weer aan die priesters gegee wat dienswerk by die altaar verrig het. Dit het gedien as beloning vir die dienswerk wat hulle gelewer het.

Die tweede tiende het die nasionale godsdienstige feeste van Israel befonds. Hierdie seremoniële feeste het ook die Paasfees ingesluit. Die doel van die tweede tiende was ondersteuning aan die Joodse nasionale feeste wat eenheid en verhoudinge onder die volk bevorder het.

Die derde tiende moes om die drie jaar op daardie jaar se oesopbrengs bepaal word. Hierdie tiende is dan na die naaste dorp geneem waar dit gestoor kon word vir die moeilike tye. Die Leviet, die vreemdeling, die wees en die weduwee kon dan gevoed word gedurende hierdie tye. Dus was hierdie tiende bekend as die tiende vir die armes.

Soos voorheen uitgewys is staan die kerk nie onder die wet van Moses nie (Galasiërs 3:24-25), maar wel onder die wet van die Gees (Galasiërs 5:1-26). Hierdie wet, wat deur liefde gedryf word, vra soms baie meer as net ’n tiende.

Sekere beginsels wat in die tiende teksgedeeltes uitstaan, kan wel oorgedra word na die Nuwe Testament. Die eerste hiervan is die beginsel van ondersteuning aan die geestelike werkers. Om behoeftiges of armes te ondersteun asook offergawes te gee wat dien as ’n sigbare manier van aanbidding, is nog beginsels wat oorgedra kan word na die kerk. Laastens kan die beginsel rondom proporsionele offers ook as riglyn dien vir die kerk rondom offergawes.

Gebed

Here, baie dankie vir die talle voorbeelde in die Ou Testament van hoe Israel hul materiële besittings gebruik het om U te dien. Help my asseblief om die beginsels wat daarin vasgevang is met liefde en getrouheid ook in my lewe toe te pas.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

DinkBiejie ·

Ek gee geen tiende vir geen kerk in Suid-Afrika nie. My ouma het altyd vertel ” Charity begins at home “. En ek wil met haar saamstem. Ek help my eie familie eerste. Geen kerk het al ooit my gehelp met kos, huisvesting, werk, of enige daaglikse noodsaaklikhede nie. Inteendeel het die kerke my en my arm gesin, gewoonlik met minagting behandel, en op ons neergekyk. As dit nie was vir gebede van my ou moeder, en die geloof wat ons self in Jesus Christus gestel het, met harde werk nie, sou ons nie kon uitstyg uit ons omstandighede nie. Ek het self familie wat Doktors en Pastore is in van die bekendste kerke in die land, en hulle eie lewens is so besmet van die walglike gierigheid van aardse besittings en geld, dat die kerk vir my ‘n witgepleisterde graf geword het. Mooi van buite maar vrot van binne. Die tiende is ‘n manier om op mense se gevoelens te speel, en die tiende is ‘n manier om die kerke skatryk te maak. Ek weet van menige pastore en ander hoofde aan kerke, wat rol in die geld. Hulle bly in ” Estates ” hulle kinders is bederf met net die beste, en hulle vrouens en hulleself ry net die duurste motors. Om nie te vergeet van al die ” brand name ” klere en skoene wat hulle dra nie. Nee dankie, die afval sit vandag die kerke vol, en met hulle wil ek myself nie meng nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.