ToekomsVenster: Die kerk en geld

geld-klein-geld-finansies

Foto: Pixabay/Pexels.com

“Elkeen moet gee soos hy hom in sy hart voorgeneem het, nie met teensin of uit dwang nie, want God het die blymoedige gewer lief.” – 2 Korintiërs 9:7

Ons is halfpad met ons reis rakende God se plan met jou finansies. Gedurende die eerste fase van die reis het ons gesien dat die Bybel aan gelowiges wysheid offer rakende die praktiese deel van geld. Gelowiges het die verantwoordelikheid om geld te verdien, te spandeer, te spaar, as saad te gebruik en die gevaar rondom skuld is ook uitgewys.

Dan het ons bietjie gekyk na sekere uitsprake van Christus rondom geld en ook offergawes wat opgeneem is gedurende die Nuwe Testament. Die volgende gedeelte van die reis gaan meer fokus op algemene vrae waarmee gelowiges soms worstel rondom die kerk en geld.

Raak prakties

Hoekom seën die Here gelowiges en hoekom vra die kerk so baie vir geld, is vrae wat beantwoord gaan word. Wat maak die kerk met al die offerandes en wat is voorspoed teologie? Moet elke gelowige ’n tiende van sy inkomste vir die kerk gee? Wat van die waarskuwing teen die liefde vir geld en moet gelowiges belasting betaal aan ’n onverantwoordelike en korrupte regering? Bogenoemde vrae is voorbeelde van vrae wat in die volgende gedeelte van ons reis – God se plan met jou finansies – aangespreek word.

Iets om oor na te dink

Al sou ek al die geld in die wêreld hê om die werk van die Here te doen – as ek nie mense het wat my help nie, sal ek nêrens kom nie. Al sou ek al die mense hê om God se werk op die aarde te doen – as ek nie geld het nie, kom ek ook nêrens nie. Die een is dus nie belangriker as die ander nie. Albei is egter belangrik om in harmonie saam te werk om God se koninkryk op die aarde te vestig.

Gebed

Here, baie dankie dat ek U met my offers kan dien om só U koninkryk op die aarde te vestig. Ek bid dat my offergawe op vrugbare grond sal val om ook só ’n verskil in iemand se lewe te maak.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.