ToekomsVenster: Die kerk, God se proeftuin

kersieboom-korea

Foto: Hpuppet/Pixabay.com

Lees: Johannes 13:12-15:

“12 Toe Hy hulle voete klaar gewas en sy bokleed aangetrek het en weer aangesit het, sê Hy vir hulle: ‘Verstaan julle wat Ek vir julle gedoen het? 13 Julle noem My julle Leermeester en Here, en julle is reg, want Ek is dit. 14 As Ek, wat julle Here en julle Leermeester is, dan julle voete gewas het, behoort julle ook mekaar se voete te was. 15 Ek het vir julle ‘n voorbeeld gestel, en soos Ek vir julle gedoen het, moet julle ook doen.”

Die aand voor Sy dood het Jesus met Sy dissipels oor die kerk gepraat; oor hoe Sy liggaam wat Hy op aarde sou nalaat, daar moes uitsien. Wat die kerk anders as die res van die gemeenskap sou maak, was hulle liefde vir mekaar; dat hulle mekaar se voete sou was en dat hulle ten alle koste die eenheid wat Hy hulle gegee het sou koester en bewaar. Hulle moes één wees; nie net ter wille van hul eie voortbestaan en ter wille van die integriteit van die boodskap wat hulle die wêreld sou indra nie. Meer nog: die eer van God was op die spel! Die dissipels van Jesus was ’n interessante, uiteenlopende groepie: Petrus wat sy mond gedurig verbygepraat het, Jakobus en Johannes, die “seuns van die donder” met hul vinnige humeure, Tomas die twyfelaar, Matteus die tollenaar en Simon die Seloot, die vryheidsvegter. Maar Jesus het hulle aanmekaar gebind, hulle gelei om hul verskille te oorbrug, om saam hulle verantwoordelikheid te aanvaar, en om die boodskap van Sy liefde uit te dra.

Dieselfde geld van die kerk in ons dag; in ons land. Die kerk – al die denominasies en gemeentes tesame – is geroep om God se proeftuin in Suid-Afrika te wees; Sy advertensie van liefde.

Gebed:

O Here, maak van die kerk in ons land U proeftuin! Help ons om mekaar in liefde te omhels en te versorg. Help ons om voete te was! En help ons om so te lewe dat die mense iets van Uself in die kerk raaksien. Maak ons gemeente ʼn advertensie van die evangelie.

Leefwyse:

Maak vandag ʼn punt daarvan om na ʼn medegelowige wat in nood verkeer, uit te reik.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Eish ·

Née a! Die woord ” kerk” kom nie eens voor in die aangehaalde deel uit die Bybel nie! Yeshua het met sy dissipels gepraat. Denominasies is nie Sy wil nie. Hy bid juis dat Sy dissipels een sal wees soos Hy en Sy Vader een is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.