ToekomsVenster: Die kerk is ook in die derde plek


Foto: pixabay.com

Foto: pixabay.com

Hebreërs 10:24 Laat ons ook na mekaar omsien deur mekaar aan te spoor tot liefde en goeie dade. Ons moenie van die samekomste van die gemeente af wegbly soos party se gewoonte is nie, maar mekaar eerder aanmoedig om daarheen te gaan, en dit des te meer namate julle die oordeelsdag sien naderkom.

Die boodskap van die evangelie, het ons nou al ʼn paar keer gesê, vind plaas waar mense met mense praat. Waar daar verhoudings gebou word.

Kom ons kyk na plekke waar mense oor geloof praat. Die plekke waar geloof oorgedra word, is: in die gesin, in die kerkbyeenkoms, skool en ontspanningsplekke. Die eerste plek van geloofsoordrag is in die huisgesin of families. In die tweede plek is dit die kerk of skool en in die derde plek daar waar mense ontspan en kuier. Hierdie derde plek word ál hoe meer die plek waar geloofsoordrag makliker oorgedra word. Dit is normaalweg ’n plek waar jy kan kuier, koffie drink en ontspan en mense nie dink daar is fout omdat jy met die dominee by die kerk gaan praat nie. Dit is in die openbaar en is nie vir mense ʼn bedreiging om te gesels, kuier, probleme te deel en ook oor die evangelie te praat nie. Die kerkgebou kan somtyds intimiderend en onvriendelik wees en dra ook somtyds die stigma dat, wanneer jy daar gaan hulp soek, dit werklik sleg met jou gaan.

Die kerk is ook derdens die plek waar mense op ’n gemaklike manier interaksie het met mekaar.

Gebed:

Vader ek wil bid vir al die gemeentes waar U kinders bymekaarkom. Ek wil bid vir elke gelowige wat vandag sy / haar kruis opneem en in die wêreld instap om mense te help. Gee elkeen van hulle krag. Amen.

Leefwyse:

Dink bietjie aan plekke wat jy sou beskryf as “derde” plekke. Plekke waar jy weet mense kuier en gesels. Dink jy mens sou daar oor die evangelie kan gesels?

Iets om vandag oor na te dink:

Mense gaan kerk toe, nie net om ’n boodskap te kry nie, maar ook om saam met ander gelowiges hande te vat. Die teks help ons om iets van die belangrikheid van die samekoms van gelowiges te verstaan. Motiveer en nooi mense om saam met jou kerk toe te kom.

ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.