ToekomsVenster: Die Koning in ’n krip

son-wolke-silwerrandjie-deur-juanita-badenhorst

Foto: Juanita Badenhorst.

LUKAS 2:7
Sy het haar Eerstelingseun in die wêreld gebring en Hom in doeke toegedraai en in ʼn krip neergelê, omdat daar vir hulle geen plek in die herberg was nie

Die wysheid van God is die dwaasheid van mense, lui die teks.

1 KORINTIËRS 1:25
Wat vir die wêreld die onsin van God is, is groter wysheid as die wysheid van mense, en wat vir die wêreld die swakheid van God is, is groter krag as die krag van mense.

As enige van ons ʼn reddingsplan vir ʼn wêreld in die greep van sonde slawerny moes ontwerp kan ek nie dink dat dit ʼn baba in ’n krip sou insluit nie. Ons word beïndruk deur groot en sterk en vernaam en luidrugtig. Maar God werk sag en nederig en sonder vertoon.

Dit is juis waarom Herodes so bedreig was toe hy verneem dat die Christuskind gebore is. Sy posisie was in gedrang. Mag is ʼn lelike ding, veral in die hande van iemand wat dit nie kan hanteer nie.

Jesus se hele lewe was een van nederige selfbeheersing en liefde. Jesaja vra juis die vraag: Wie sal die wysheid van die Here hierin kan raaksien?

JESAJA 53:1
Wie sal ons glo as ons hiervan vertel? Wie sal die mag van die Here hierin kan raaksien? Die dienaar was soos ʼn loot wat voor die Here uitspruit, soos ʼn plant wat wortel skiet in droë grond. Hy het nie skoonheid of prag gehad dat ons na hom sou kyk nie, nie die voorkoms dat ons van hom sou hou nie.

Die Redder van hierdie wêreld is onaansienlik en gewoon!
Jesus sou waarskynlik nie in die meeste van ons vriendekringe ingesluit gewees het nie. Hy sou op skool nie een van die “gang” wees nie. Waarskynlik nooit kwalifiseer as klas- of rugbykaptein nie (uiteraard is daar niks mee verkeerd om dit te wees nie).

Dis die andersheid waarmee God sy reddingsplan uitvoer wat buitengewoon en onverwags is. Dit was juis van die argumente wat aangevoer is waarom Jesus duidelik nie die Messsias-koning kon wees nie.

JOHANNES 1:46
Maar Natanael sê vir hom: “Kan daar uit Nasaret iets goeds kom?” “Kom kyk,” het Filippus hom geantwoord.

Die geestelikes het geargumenteer: Ons ken sy ouers en broers en susters en hulle is gewoon. Sy pa is ʼn skrynwerker sy moeder was verwagtend sonder dat sy getroud is.
Wie kan dit verduidelik?

JOHANNES 7:27
Ons weet tog waar hierdie man vandaan kom; maar wanneer die Christus kom, sal niemand weet waar Hý vandaan kom nie.

Moenie soos die wêreld kyk nie!
ʼn Ongelowige, wantrouige en bevooroordeelde wêreld sien nie wat God sien nie.

“Wees gegroet dapper man,” sê die engel vir die vreesbevange Gideon terwyl hy wegkruip uit vrees vir die Midianiete se verwoesting.
God kyk en sien anders.

Hierdie Jesus is gering maar Hy is die Messias-koning.

MATTEUS 14:33
Die manne in die skuit het voor Jesus gekniel en gesê: “U is waarlik die Seun van God.”

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.