ToekomsVenster: Die Koning se geboorteplek

Herder_skape_veld_stiltetyd.jpg

Foto: Carbonchurch.com

“Sy het haar Eerstelingseun in die wêreld gebring en Hom in doeke toegedraai en in ’n krip neergelê, omdat daar vir hulle geen plek in die herberg was nie.” – Lukas 2:7

Ons sien ook dat die koninkryk ’n totale nuwe manier van menswees teweegbring en dit begin deur die lewe van die Koningskind. Waar kies die Koning van die hemel om gebore te word? In die Dawidstad natuurlik, want dit is van waar af die Verlosser sou kom. En die plek? ’n Stal. Jesus se eerste lêplek vir sy kop? ’n Voerbak vir diere. Vir die lesers van die Evangelie sou dit na onsin geklink het, nie waar nie?

Dit is egter presies die boodskap van die Bybel. Die Koning van die hemel word deel van Sy aardse mense en Hy word gebore in die morsigste plek wat jy jou ooit sou kon voorstel. Het jy al ooit nagedink oor hierdie beeld van morsigheid en wat dit vir ons kan beteken?

Dit is seker die perfekste beskrywing van ’n lewe sonder die Koning van die hemel; ’n lewe van sonde, skaamte en hopeloosheid. Dit is tot hierdie gemors-lewe wat die Koning van die hemel toetree, want Hy is baie gemaklik om by ons te wees te midde van die gemors van ons lewens.

Daar is talle voorbeelde van mense wat in die morsigheid van hulle lewens uitgeroep het na die Koning. Hulle wat gesmeek het: Here, ontferm U oor ons; melaatses, kreupeles, sondaars, vroue van losse sedes, tollenaars, vissermanne, die Doper, die man van Tarsus, om maar net ’n paar te noem.

Die koninkryk het nie gekom om met mag, eer en glans aan die wêreld geopenbaar te word nie. Die koninkryk is geopenbaar te midde van die morsigste situasies denkbaar. En die eerste getuies daarvan? Sterrekykers en skaapwagters.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

SNEL ·

Wow, goed gestel, nog nooit so daaraan gedink nie. Morsige stal vir morsige situasies. So baie wat mens uit een gedeelte uit die Bybel kan kry. Die beste Boek ooit.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.