ToekomsVenster: Die Koning wat voete was

Jesus-wat-voete-was

Argieffoto.

“Toe Hy hulle voete klaar gewas en sy bokleed aangetrek het en weer aangesit het, sê Hy vir hulle: “Verstaan julle wat Ek vir julle gedoen het? Julle noem My julle Leermeester en Here, en julle is reg, want Ek is dit. As Ek, wat julle Here en julle Leermeester is, dan julle voete gewas het, behoort julle ook mekaar se voete te was.” – Johannes 13:12-14

Die Koning van die heelal is ook die dienaar van sy burgers. Die kultuur van die hemel keer die kultuur van die wêreld om en daarom is die evangelie altyd kontra-kultuur. Jesus het gesê dat Sy dissipels soos slawe moet wees (Markus 10:43) en in Markus 10:45 het Hy verklaar dat die Seun van die mens gekom het om te dien en Sy lewe te gee as losprys vir baie mense. Die Koning van die hemel, die Seun van God, word die Seun van die mens sodat mense, seuns en dogters van God kan word.

Hierdie beeld van Jesus as dienaar gee vir ons ’n nuwe blik op die koninkryk van die hemel. Stel jouself voor jy stap eendag die troonkamer van die hemel binne en tot groot verbasing sien jy die Groot Koning besig om ander te dien. Dit is die onderstebo kultuur van die koninkryk en dit sal vir ons goed wees om dit nou reeds ons eie kultuur te maak, want dit gaan vir altyd so wees.

In die eerste Petrusbrief gebruik Petrus ook die beeld van onderdanigheid. Daarin sê hy dat gelowiges onderdanig moet wees aan elke menslike owerheid (1 Petrus 2:13-15); aan hul werkgewers (1 Petrus 2:18-21); aan hul huweliksmaats (1 Petrus 3:1-7) en aan hul medegelowiges (1 Petrus 3:8-12). Die onderstebo kultuur van die koninkryk het neerslag gevind in die lewens van elkeen wat ’n volgeling van die Koning geword het, hulle wat self geproe en gesien het dat Hy goed is.(1 Petrus 2:3).

Delf dieper

Petrus moes leer dat, om Jesus te dien, beteken dat hy Jesus moes toelaat om hom te dien. Daarna sou hy die gelowiges aanspoor om die wêreld waarbinne hulle as bywoners geleef het, te dien. Lees 1 Petrus 4:7-11 in nadenke op die Woord van God.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.