ToekomsVenster: Die Koningskind wat leef en brood breek

Foto: Pixabay

“Terwyl Hy saam met hulle aan tafel was, neem Hy die brood, vra die seën, breek dit en gee dit vir hulle. Toe gaan hulle oë oop en hulle het Hom herken, maar Hy het uit hulle gesig verdwyn … Hulle het dadelik opgestaan en na Jerusalem toe teruggegaan. Daar kry hulle die elf en die ander mense bymekaar, en dié sê: ‘Die Here het regtig opgestaan en Hy het aan Simon verskyn!’” – Lukas 24:30-31; 33-34

Hoewel die Bybelles hul harte warm gemaak het, was dit in die breek van die brood saam met hulle wat Jesus sigbaar geword het. Hierin lê daar ’n kosbare waarheid vir elke gelowige wat saam met ander die brood breek, want dit is in ons maaltye met mekaar en met
ander, daar waar ons die brood breek, dat Hy sigbaar word.

Die meeste kommentare verklaar dit as volg: Toe Jesus die brood gebreek het, het hulle die merke aan sy hande gesien en toe besef wie Hy was. Ander meen weer dat dit hulle herinner het aan die kere waar Jesus die brood en die vis vermenigvuldig het en nadat Hy God daarvoor gedank het, het Hy dit uitgedeel.

Vir ons vat die gebeure ons terug na die Nagmaal. Daar waar Jesus gesê het dat die brood Sy liggaam is en die wyn Sy bloed en elke keer as die gelowiges dit saam gebruik, moet hulle aan Hom dink. (sien 1 Korintiërs 11:23-26).

Die feesmaaltyd van die Koning van die hemel bestaan uit twee dele: Die breek van die brood en die drink van wyn. Die eerste gemeente het ’n bepaalde lewensritme gehad waarmee hulle geleef het en een daarvan was om gereeld die gemeenskaplike maaltyd saam te deel (Handelinge 2:43).

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.