ToekomsVenster: Die koninkryk en die beweging

Argieffoto: Phillip Bruwer

“Paulus het ’n volle twee jaar lank in die huis gebly wat hy gehuur het, en hy het almal ontvang wat hom kom besoek het. Hy het die koninkryk van God verkondig en die mense alles oor die Here Jesus Christus geleer. Dit het hy gedoen met die grootste vrymoedigheid en sonder enige verhindering.” – Handelinge 28:30-31

Dit laat my aan ’n storie dink wat ek in my kinderdae gehoor het. Die storie gaan oor Jesus se aankoms in die hemel na hemelvaart. Gabriël was die eerste een om te hoor hoe dit gegaan het. Hy vra toe vir Jesus of almal op aarde toe Christene was aangesien die koninkryk van God naby gekom het? Jesus se antwoord was nee. Jesus sê toe dat Hy die Goeie Nuus aan ’n klein klompie toevertrou het. Verbaas vra Gabriël toe: “Aan hoeveel Here?” Jesus antwoord: “Aan elf van hulle.” Geskok vra Gabriël toe: Here, is U seker?” Daarop het Jesus geantwoord: “Ja, Ek is.”

Die beweging van die koninkryk het ontplof en die destydse wêreld getref met ’n groeikurwe in die eerste 300 jaar na Christus se hemelvaart wat nog nooit weer gesien is nie. Die beweging groei steeds. Is jy deel daarvan?

Delf dieper

Lees Markus 5:1-20 en Markus 6:53-56. Sien jy die beweging van die koninkryk raak? Een man se gehoorsaamheid het daartoe gelei dat Jesus dadelik herken is. Wat sê dit vandag vir jou?

Wanneer Paulus die aflosstokkie aan Timoteus oorgee, gee hy aan hom besonder bemoedigende woorde. Lees 1 Timoteus 4:6-16 en hoor wat die Here ook hierin vir jou wil sê.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.