ToekomsVenster: Die kortste pad na herlewing

(Foto: Ben White/Unsplash.)

Habakuk 3:2 – Here, ek het gehoor wat van U vertel is en ek is vervul met ontsag vir wat U gedoen het. Doen dit tog ook in ons tyd, laat u dade ook in ons tyd ervaar word, ontferm U selfs in u toorn.

Vir baie jare reeds praat en bid die kerk vir “herlewing”. Die Here moet asseblief iets doen aan die goddeloosheid van ons wêreld. Die onverskilligheid neem hand oor hand toe, ja selfs kerkmense maak hulle daaraan skuldig. “Ons het die Heilige Gees nodig”, sê mense. Die Here moet sy Gees oor ons uitstort en ons harte vernuwe.

Toegegee, dis maar ʼn menslike manier van praat oor die nood en versugting van ons dag en wat ons reken die antwoord en oplossing daarvoor is. Die Here moet ons help.

Natuurlik is daar met die gebed en die versugting niks verkeerd nie, dit kom tog uit ʼn rein en bekommerde hart. Tog lê sommige aksente skeef.

Wat nodig is vir hierdie wêreld om by God uit te kom , sy genade en vergiffenis te ervaar, die toekoms in die oë te kyk, hoop te hê vir die lewe het God in Christus Jesus klaar gedoen. Daar is niks uitstaande nie. Ek herhaal, daar is niks uitstaande nie.

Hy het alles reeds gedoen. Die prys betaal, die dood oorwin, sy plek langs die Vader ingeneem, die Gees gestuur.

Boonop het ons vandag sy geskrewe Woord, word ons omring met beloftes. Verder is ons gestuurdes. (Matt.28:19)

Wat gedoen is moet verkondig en geleef word. Ons moet doodgewoon in Jesus se spore loop. Dit is die kortste pad na herlewing, kinders van die Here wat soos kinders van die Here leef en optree.

Hoe help jou lewe ander mense om die God van genade te vind?

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.