ToekomsVenster: Die krag van Pinkster

(Foto: pixabay)

Julle sal krag ontvang, sê die teks. Dit is interessant dat Jesus hierdie woord kies. Al die ander nuanseringe van menslike nood is op die tafel. Mens sou inderdaad die belofte kon skryf as julle sal hoop, geloof, liefde, troos, genade, geduld, ens. ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom. Dit verteenwoordig die wye verskeidenheid van genade toesegginge wat in en deur die Gees se werking ons deel word. Hy is die Gees van troos, genade, liefde, hoop en geloof. Tog hou die toesegging, die belofte verband met krag. Dunamis. Dinamiese, relevante, eietydse, kontekstueel verbandhoudende, eietydse, krag.

Waarin bestaan hierdie krag dan?

Uiteraard verwys dit nie in die eerste instansie na die stamina wat ons nodig het om ons dagtaak te verrig nie. Dit ook uiteraard maar veel meer. Ek reken die verstaan moet gesien word in ʼn omvattende, allesinsluitende en volledige toerusting vir die taak waarvoor ons bestem is en geroep word.

Jesus sou kon sê, wanneer die Heilige Gees kom sal julle alles ontvang wat julle nodig het om as my verteenwoordigers, ambassadeurs en gesante in hierdie wêreld op te tree. Die krag is inderdaad niks anders as die inwonende Christus, sy wysheid, vermoë, gawes, toerusting en teenwoordigheid nie.

Dit is tog ondenkbaar om te dink dat die Here ons vir ʼn taak sal roep maar nie gee wat nodig is om die taak uit te voer nie.

Stel jouself dit voor jy vra iemand om die huis skoon te vee maar jy gee nie ʼn besem nie. Jy vra iemand moet ʼn ete voorberei maar jy gee nie die bestanddele nie. Jy vra iemand om te skoffel maar hy het nie ʼn graaf nie. Voorbeelde is legio. Jy kan so iemand nie kwaklik neem as hy aan die einde van die dag onverrigter sake by jou aanmeld nie. Nee, die Gees is alles wat jy nodig het om jou unieke taak, roeping, opdrag uit te voer.

Covid-19 gaan nie in die afsienbare tyd uitgewoed wees nie. Trouens, ʼn heel nuwe orde het aangebreek. Die gewone manier van dinge doen gaan nie meer doeltreffend wees nie. Bykans alle samelewingsverbande moet hul werkswyse en benadering heroorweeg.

Dit is ʼn nuwe spel en min weet wat regtig om te doen.

Samelewingsverbande, die kerk van Jesus ingesluit, sal nuwe ’n nuwe weg moet verken ten einde die Evangelie en die hoop wat dit bring met mense te deel. Die vierde industriële revolusie is deur Covid-19 bykans ongenaakbaar aan ons opgedring.

Ons het krag, die omvattende bemagtiging van God se Gees.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.