ToekomsVenster: Die Lam, later die Leeu

(Foto: Rod Long/Unsplash.)

Johannes 1:29 – Die volgende dag sien Johannes vir Jesus na hom toe kom. Hy sê toe: “Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!”

Johannes trek die skares na hom toe. Hy loop die gevaar dat mense sal dink dat hy die lang verwagte Messias is. Die oomblik breek egter aan dat Jesus na Johannes kom om gedoop te word. Dan word alles duidelik: daar is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem.

Ek sou dink dat die koms van die Seun van die mens in die mond van die wegbereider as volg klink. “Daar is die Leeu uit die stam van Juda, sy heerskappy en invloed gaan nou gevoel word. Verwag ʼn dramatiese ommeswaai in die wêreld geskiedenis. Israel, jul lang verwagte Verlosser is hier. Hy gaan die Romeinse juk nou afwerp. Die oomblik van God se bevrydende waarheid het aangebreek. Julle swaarkry is verby”.

Sy aankondiging is egter verbysterend en verrassend. “Die Lam van God, Nie die Leeu van Juda nie”. Hy is inderdaad die Leeu maar dit is nie waar Johannes die fokus plaas nie.

Wat die wêreld nou nodig het is ʼn Lam nie ʼn Leeu nie. Iemand wat dienswillig, opofferend en sorgsaam is. Die Jode kon dit nie verwerk nie. Die verwagting was so anders. Die juk van die oorheersers moes af. Inderdaad maar dit is ʼn ander juk. Dit is die swaar las van ʼn hartstogtelike en verharde, Godvervreemde en naaste hatende hart. Klip hart, duiwelshart. Die mense vir wie Hy sy verskyning maak wil dat die fisiese juk van hulle afgewerp word.

Hy deel met ʼn gans ander juk. Gewelddadig, maar geestelik geweldadig. Dit speek steeds  grafies uit in ons wêreld.

Die Godvervreemde mens saai verwoesting en word deur selfsug en vooroordeel verteer. Hulle het geen erg aan reg en geregtigheid nie. Hulle vergryp hulle aan die lewens van onskuldige mense. Die versoeking is groot dat ons ook ʼn Leeu wil hê.

Die era van die Lam is egter nog met ons. Dit is nog die wel aangename dag van die Here. Mense word nog van die geestelike juk bevry. Daar kom ʼn dag wanneer die Lam en die Leeu rolle sal ruil. Dit sal ʼn dag van afrekening wees.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae