ToekomsVenster: Die lang reis van sê na doen

Foto: Julian Hochgesang/Unsplash

“Nie elkeen wat vir My sê: ‘Here, Here,’ sal in die koninkryk van die hemel ingaan nie, maar net hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemel is. – Matteus 7:21

Ek vind vanoggend hierdie frase oor die baie beloftes wat politici maak, maar die teleurstelling dat dit nie altyd in dade omgesit word nie.

Die spreekwoord, die pad na die verderf is met goeie voornemens geplavei, is bekend. Ook Christene maak hulself soms daaraan skuldig dat hulle dink dat die feit dat daar oor ʼn saak nagedink is, dit ook daarmee afgehandel is. Lang vergaderings word gehou om die meriete van ʼn saak te bespreek. Behoorlike beplanning kan geen skade doen nie maar as dit nie iewers gekonkretiseer word nie is al daardie tyd en energie verkwis.

Wanneer ʼn mens ietwat ouer raak begin jy dagdroom oor die dinge wat jy nog wou gedoen het maar, die jare het jou ingehaal. Die frase “ek wou nog altyd, ek wou so graag, eendag gaan ek nog, as ek weer ʼn geleentheid kry sou ek”, ens. is bekend. Uiteraard kan ʼn mens nie alle drome verwesentlik nie. Daar is verskeie faktore wat daartoe bydrae. Die Here verwag ook nie van ʼn mens die onmoontlike nie.

Ek dink die lewensmotto “vind wat jou hand vind om te doen” is uiters relevant, prakties en uitvoerbaar. In stede daarvan om te sweem oor wat God se plan met jou lewe mag wees raak daadwerklik betrokke. Algaande sal die fokus vir jou lewe uitkristaliseer. Die Here sal jou nooit verkwalik as jy vir mense kos gegee het in stede van klere nie. Hy sal jou nie verwyt as jy oues bemoedig het in stede van Bybelstudie hou nie. Ek wil nie die gawe dinge teenoor mekaar afspeel nie maar jou aanmoedig om gehoorsaam en verbeeldingryk betrokke te raak by ʼn dienswerk.

Die Bybel leer ons immers “nie elkeen wat sê Here, Here sal gered word nie maar hy wat die wil van My Vader doen”. Die boeke sal volgens Openbaring oop gemaak word en elkeen sal beloon word vir dit wat hy gedoen het. So kan ʼn groot verskeidenheid teksbewyse aangevoer word.

Hoe ver het ons gevorder op die reis tussen sê en doen?

Mag ons genade vind om gehoorsaam te wees.

Nee, God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het. – Efesiërs 2:10

ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.