ToekomsVenster: Die lastering teen die Heilige Gees

brood

Foto: Jonathan Pielmayer/Unsplash.com

Daarna het Jesus huis toe gegaan. ‘n Menigte mense het weer saamgedrom, sodat daar selfs nie geleentheid was om ‘n stukkie te eet nie. Toe sy familie hiervan hoor, het hulle gegaan om Hom te gaan haal, want hulle het gesê: “Hy het van sy kop af geraak.” Die skrifgeleerdes wat van Jerusalem af gekom het, het gesê: “Hy is van Beëlsebul besete!” en “Dit is met die hulp van die aanvoerder van die bose geeste dat hy bose geeste uitdrywe.” – Markus 3:20-22

Die teks sê dat Jesus baie besig was sodat Hy nie eers tyd gehad het om behoorlik te eet nie. Probeer jou Jesus se sorgsame omgee en bediening voorstel. Mense stroom steeds in groot getalle na Hom toe. Hy neem hul swaarkry ter harte. Hulle is vir Hom belangriker as om selfs te eet.

Ons het almal al dae beleef waar dit so dol gaan dat jy letterlik nie nat of droog oor jou lippe geneem het nie. Mens verstaan iets van Jesus se bediening en die toewyding wat dit van Hom gevra het. Per geleentheid reageer Jesus dat Hy voedsel het waarvan die mense nie weet nie. Hy verwys na sy gerigtheid op die Vader en om sy wil te doen.

Joh. 4:34  – Maar Jesus het vir hulle gesê: “My voedsel is om die wil te doen van Hom wat My gestuur het, en om sy werk te voltooi.”

Jesus se passie en toewyding is duidelik in hierdie gedeelte. Trouens dit is van so ʼn aard dat sy familie bekommerd is oor sy emosionele welsyn. Hy gun Homself nie ʼn oomblik rus nie.

Uiteraard moet ʼn mens genoeg eet en slaap, rus en ontspan terwille van jou emosionele en liggaamlike gesondheid. Tog wil hierdie gedeelte vir ons iets sê oor presies hoe ernstig Jesus sy roeping geneem het.

Mense is soms bekommerd dat hul sonde gedoen het wat nie vergewe sal word nie. Jesus is hier duidelik oor die een sonde wat nie vergewe kan word nie, die sonde teen die Heilige Gees. Laasgenoemde is om konsekwent, sonder aarseling en moedswillig God te verwerp, Hom verdag te maak, jou rug op Hom te draai en in daardie toestand te sterwe. Dit is om God se werk aan die bose toe te skryf. Mense wat op hierdie pad van onverskilligheid is is nie bekommerd oor hul geestelike welsyn nie. Dit het reeds te laat geword.

Wat wel belangrik is, is dat ʼn mens jou nie teen God sal verset nie. Hy is in die hemel en heilig, sê die teks iewers. God is verhewe en nie ons speelmaat nie.

Aan die anderkant het Jesus vir alle ander sondes gesterf en kan ʼn mens rus vind dat Hy steeds bereid is om sonde en ongeregtigheid te vergewe.

As ons weer na die teks luister vra jouself af met hoeveel ywer jy besig is met die dinge van jou Hemelse Vader.

Is daar fokus en passie by jou te bespeur wat maak dat jy somtyds bereid is om jouself sekere voorregte tydelik te ontsê terwille van die groter taak?

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Maria ·

Hele hoofstuk haal een stuk uit wat my skokkend is en nooit geweet nie. Dit om nie te sondig TEEN HEILIG GEES nie van alle Hele Tien Gebooie. Min mense weet dit.

Christopher ·

Wel ek het my rug op Jesus gedraai en het my teen God verset en daarna bekeer net voor ek n duiwel aanbidder sou word.
Beteken dit dan ek is dit nie vergewe nie?

Hannah ·

Christopher…GOD se genade is elke dag nuut! Ons loof die HERE dat jy omgedraai het! HY sal jou nooit verstoot! As jy opreg jou dwaling bely het is jy vergewe! GOD kyk na jou hart! Wees gehoorsaam aan HOM – HY is baie duideklik daaromtrent: MATTEUS 6:6
Nee, as jy bid, gaan na jou kamer toe, maak die deur toe en bid tot jou Vader wat jy nie kan sien nie. Jou Vader wat sien wat verborge is, sal jou beloon.

Lourens ·

Christopher, as jy al jou sondes bely het, en glo in ons drie enige Vader, Seun en Heilige Gees, dan ís jy vergewe.
Moenie twyfel nie, glo dit.

Frank ·

Dis reg wat Jannie hierbo geskryf het.
Dis slegs die Heilige Gees wat OPREGTE bekering in Sy kinders kan bewerk, nie die mens self nie. Onthou ook, God se kinders is al voor die grondlegging van die wereld af uitverkies. Moet nooit twyfel nie, GLO net. Maar weet ……. God en God alleen sit op die regterstoel.
Lees groot asb van koning Manasse in 2 Kronieke 33, wat God met ‘n sondaar kan doen.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.