ToekomsVenster: Die liefde doen geen kwaad

wag-uitkyk-berg-wolke-man

(Foto: Joshua Earle/Unsplash)

Die liefde doen die naaste geen kwaad aan nie. Daarom is die liefde die volle uitvoering van die wet. – Rom. 13:10

Somtyds staan jy verbysterd teenoor die dinge wat mense mekaar aandoen. Neem die noorde van Mosambiek as ’n voorbeeld, dit was onlangs voorbladnuus. Mense wat vermink en selfs in die publiek onthoof word. Tienduisende mense wie se lewens dramaties ontwrig is en selfs van honger kan sterf. Hoe is dit hoegenaamd moontlik dat een mens aan ’n ander kan doen wat daar gedoen word?

Grizelda Grootboom vertel in ’n radio-onderhoud wat sy in haar lewe moes verduur. Dit is skandelik, skandalig en pynlik om selfs aan te hoor. Sy was die prooi van mensehandel en is wreed verrinneweer en misbruik.

Wat is dit met mense dat mense mekaar so traak-my-nie-agtig, so vanselfsprekend, so weglaatbaar, so kleinlik en minagtend kan hanteer?

Jy mag redeneer dat ons nie skuldig is aan sulke gruwelike mens vergrype nie. Ons is ordentlike mense wat elke dag ons gang gaan en probeer sorg en versorg waar en hoe dit moontlik is.

Ek is daarvan oortuig dat ons nie uit die staanspoor besluit om ander te na te kom nie, maar op een of ander manier doen ons dit tog wel, of hoe?

Ongelukkig is sosiale media ’n sprekende voorbeeld daarvan, die wyse waarop mense mekaar slegsê, is brutaal. Hulle huiwer nie om gekruide taal te gebruik en mense vir wie Jesus se bloed betaal het, doodgewoon af te skryf nie. Van die Bybelse voorskrif dat ons verdraagsaam met en teenoor mekaar moet wees kom daar min op van hierdie platforms

Hoe praat ons oor mekaar, ons kollegas, ons geloofsgemeenskap en ander verbintenisse?

Die teks is duidelik: As dit kwes, seermaak, wond en verwond, is dit nie liefde nie.

Daar is geen verskoning nie. Liefdeloosheid is sonde en dit maak die God se hart seer om dit in kinderlike terme te stel.

Kom ons leef radikaal anders, van vandag af. Die liefde, doen die naaste geen kwaad aan nie!

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.