ToekomsVenster: Die liefde doen nie kwaad

liefde-hartjies-liggies-dekor

Foto:
Freestocks.org/Unsplash.com

Want elke verbod, dié teen egbreuk, teen moord, teen diefstal, teen verkeerde begeertes – en watter ander een daar ook mag wees – word opgesom in hierdie een groot opdrag: “Jy moet jou medemens net so liefhê soos jouself.” Die liefde doen niemand kwaad aan nie. Daarom voldoen die liefde aan al God se vereistes. – Romeine 13:9-10

Die liefde doen die naaste geen kwaad aan nie. Sjoe, dit is darem duidelik, verstaanbaar, en nie vatbaar vir ander interpretasie nie.

Dit is liefde as die deurslaggewende lewensbeginsel.

Wat kom in die plek van die liefde as dit afwesig is?

Eiebelang, selfsug, wreedheid, manipulasie, vooroordeel, hebsug, leuens en bedrog.

Mens vind dit moeilik om te verstaan hoe mense sekere dinge kan doen sonder om in hul gewetens aangespreek te word. Kan ʼn mens so sonder ʼn gewete wees dat jy nie vir ʼn enkele oomblik nadink oor jou lewe, die toekoms, selfs net die moontlikheid van rekenskap aan ʼn Goddelike wese nie?

Is dit moontlik dat ʼn mens geen begeerte het om iets agter te laat wat ander sal inspireer nie?

Hoe lewe mense sonder om die belang van ander te oorweeg?

Tog gebeur dit en sonder om ʼn oordeel te fel, dit is God se werk, is soveel nuusmakers eksponente van ongeregtigheid en hardvogtige onverskilligheid jeens God en ander mense.

Dit is inderdaad waar dat ons as gelowiges in niks anders kan roem as die genade van God nie. Ons is dankbaar vir mense, mentors, onderwysers, gemeentes en selfs die media wat die Woord na ons toe gebring het.

Ons is dankbaar vir ouers wat ons van Jesus vertel het en wie self uit die geloof gelewe het. Ouers en versorgers wat hul doopbelofte of “inseën belofte” gestand gedoen het.

Wat sou van ons geword het as dit nie deel van ons lewens was nie?

Wie roem moet in die genade roem, nie eie vermoë nie. Dit is kortsigtig.

So baie mense word dit wat aan hulle gedoen is. Hulle leef die gebroke verhaal van hul grootwordjare net verder uit. Dit hoef nie te gebeur nie.

Daar is innerlike genesing, oorwinning, en deur die krag van die Heilige Gees is oor begin moontlik.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Yvonne ·

Hierdie is die essensie van die lewe….daarsonder is dit stukkend…..die hel vanself….Amen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.