ToekomsVenster: Die liefde

liefde-hout-hart

Foto: Ben_Kerckx/Pixabay.com

Rom. 13:8-10 – Julle moet niemand iets verskuldig wees nie, behalwe om mekaar lief te hê. Wie sy medemens liefhet, voer die hele wet van God uit. Al die gebooie: “Jy mag nie egbreuk pleeg nie, jy mag nie moord pleeg nie, jy mag nie steel nie, jy mag nie begeer nie,” of watter ander gebod daar ook al is, word immers in hierdie een gebod saamgevat: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” Die liefde doen die naaste geen kwaad aan nie. Daarom is die liefde die volle uitvoering van die wet.

Dis maklik en dis moeilik, die gebod van God. Maklik deur die krag van die Heilige Gees, eintlik onmoontlik in eie krag.

Ons skuld mekaar so baie, meer dikwels belydenis en vergifnis. Ons oortree teenoor mekaar en vryf mekaar skeef op. Ons laat toe dat vooroordeel en agterdog in ons woning maak en stereotipeer mekaar. Ons glo ander se skinderstories eerder as om die waarheid na te speur. Ons leef met vrees dat ander ons skade sal berokken en klou verbete vas aan wat in elk geval nie aan ons behoort nie. Ons noem mekaar name en vermy mekaar. Ons bly in een land maar weet nie eers wie ons bure is nie. Ons kyk neer op God se handewerk in ander mense en leef in kompartemente ver van mekaar verwyder.

Dit gebeur in ons huise, by die werkplek, in ons sosiale kring en gemeenskap. Paulus sê die liefde doen nie naaste geen kwaad aan nie. Die vraag van die wetsgeleerde kom dadelik by my op: Wie is my naaste, wou hy weet. Dan vertel Jesus die aangrypende verhaal van die barmhartige Samaritaan. Die verhaal verras omdat ons gedink het die volksgenoot, die priester, die kerk sou darem iets aan die man se situasie gedoen het. Immers, hy is vir dood agtergelaat nadat hy deur rowers verniel is.

1 Kor. 13 slaan die spyker nog dieper in. Die liefde is nie hoogdrawend nie, maar beskeie. Die liefde is nie haatdraend nie maar toegeneë, die liefde gee, hoop, vertrou en glo, alles.

Ai, Here, ons sukkel om lief te hê, selfs onsself lief te hê. Sal u asb. genade betoon?

Die liefde doen die naaste geen kwaad aan nie. Kan dit duideliker, eenvoudiger en Goddeliker gestel word? Daarom is die liefde die volle uitvoering van die wet. As jy liefhet, is aan die eise van die wet voldoen sê die Woord.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.