ToekomsVenster: Die mal wêreld

Argieffoto

Soos dit in die dae van Noag was, sal dit ook wees by die koms van die Seun van die mens. In daardie dae voor die sondvloed het hulle soos gewoonlik geëet en gedrink en getrou tot op die dag dat Noag in die ark ingegaan. – Matteus 24:37

“Die wêreld het mal geword” skryf Waldimar Pelser oor 2019 se gebeure. Hy som hoogtepunte, nee eerder laagtepunte, maandeliks vir 2019 op. Daar is ʼn ryke verskeidenheid van gebeure, sommige onwerklik en tog waar.

Dit is ʼn interessante wêreld waarin ons woon. Dit is nie net van Suid-Afrika waar nie maar van talle plekke en kontekste op aarde. Dinge is duidelik baie deurmekaar en dit lyk nie of dit beter gaan nie.

Is daar nog koersvaste mense op hierdie planeet, mense wat die oë op die horison en God se nuwe dag het? Is daar nog mense wat weier om toe te gee aan ʼn wêreldse kultuur?

Teologies gesproke leef ons sedert die koms van Jesus na hierdie wêreld in die laaste dae. Dit wil egter lyk asof dinge na ʼn punt toe beweeg en ons moontlik die laaste van die laaste dae beleef.

Daar is ʼn paar perspektiewe wat gelowiges in ʼn tyd soos hierdie nie moet vergeet nie. Inderdaad is daar ʼn streep in die sand vir ons bestaan op aarde en die geskiedenis soos ons dit ken. Jesus kom weer en Hy kom om te oordeel. Die boeke sal uitgehaal word en elkeen sal beloon word volgens dit wat hy gedoen het, of dit goed was of sleg. Niemand gaan daardie oomblik van rekenskap ontsnap nie. (Openb.20:12)

Gelowiges sal hulle op die volmaakte offer van Jesus beroep. Goddank daarvoor. Tog sal ons werke en die gehalte daarvan openbaar word. Goud, silwer, edelgesteentes of hout, stoppel en strooi. (2 Kor.3)

Die laaste dae sal gekenmerk word deur ʼn intensiewe toename in die dinge waarvan ons lees. Inderdaad was die merkers nog altyd met ons maar daar is ʼn konsentrasie van onverskilligheid soos die wêreld nog nie sedert Noag beleef het nie. Die Bybel sê dit immers.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.